Van ’n nederige begin in die Swartland-nagskuiling tot ’n toegeruste sentrum in Albaniestraat, waar kinders met gestremdhede versorg word, is Jo-Dolphin Swartland APD vandag trots op dit wat hy deur die jare vermag en bereik het.
Jo-Dolphin het die afgelope Vrydag (8 November) sy 16de verjaarsdag gevier waartydens lede van die Malmesbury-Lions-klub onder meer hierdie spesiale geleentheid ekstra pret gemaak het deur die kinders en personeel met smullekker kolwyntjies en ’n middagete te bederf.
Jo-Dolphin het ook onlangs nuwe slimtegnologie van die departement van onderwys se afdeling, wat hom op inklusiewe uitkomsgebaseerde onderwysbenadering (UGO) toespits, ontvang. Die sentrum gaan volgens die bestuurder, Estrelita Geldenhuys, baie daarby baat. Dit sluit onder meer ’n vloer-projekteerder en ’n sogenaamde PC Eye in. “Hierdie projekteerder word in die klaskamers gebruik en moedig beweging aan, stimuleer visuele en tasbare reaksies en bevorder kognitiewe en fisieke rehabilitasie. Dit is veral waardevol vir kinders met fisieke, kognitiewe of sensoriese gestremdhede. PC Eye is ’n instrument wat individue met fisieke gestremdhede in staat stel om ’n rekenaar met net hul oë te beheer. Dit help mense om deelname aan leermateriaal en ander digitale aktiwiteite te verbeter,” verduidelik Geldenhuys verder. Volgens haar het alle personeel ook opleiding ondergaan om die toerusting ten volle tot voordeel van die kinders te kan benut.




