Die VGK Darling het Sondag 19 Junie ’n spesiale Jeug- en Vadersdag-diens gehou. Die teologiestudent Sabriena September het die Woord bedien uit Habakuk 3:17-18 en Jesaja 46:4. Die gasspreker, Maurice Page (“Ty” van Suidooster-faam), het verder die jeug en vaders bemoedig. Met verwysing na sy grootwordjare, was sy oorlede oupa sy rolmodel. Al was hy slegs elke twee weke vir ’n naweek tuis, kon en het hy sy verantwoordelikheid teenoor sy gesin nagekom. Page het die jeug gemaan om nie oorhaastig besluite te neem nie. Hy sê as dit jou tyd is, sal die Here jou tot daar vat. Hy het die jeug aangemoedig om hul vaders, oupas, mentors en leermeesters te waardeer nadat hy skertsend daarna verwys het dat Vadersdag maar 20ste op die lys van mees gevierde dae is. Hy het gesê hy sal juis daarom altyd sy oupa eer en oor hom getuig waar hy ook al kom. Die dag is gereël deur die Christian Youth Ministries (CYM) van die VGK Darling met die hulp van kerkleiers en mentors, en is ook gevier met verskeie musiekitems en lofprysing. Die CYM het van die geleentheid gebruik gemaak om hul nuwe hempies in te wy. Die burgemeester van die Swartland-munisipaliteit was ook onder die gaste.


jeugdag, vadersdag saam gevier

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article