Jongmense van die Sewendedagadventiste-kerk (SDA) het onlangs hul harte oopgemaak en liefdedade vir bejaardes en siekes in Ashton en Robertson gedoen.
Die uitreikaksie is dié van die kerk se Wêreld-jeugdag, wat jaarliks in Maart plaasvind en jongmense uitdaag om die “hande en voete van Jesus” in hulle gemeenskappe te wees.
“Mense gebruik gemiddeld 7 000 woorde per dag, wat jou bring tot die volgende twee vrae: Eerstens, hoeveel van daardie woorde het ’n invloed op die mense rondom jou, en dan meer spesifiek, ’n positiewe invloed? En tweedens, hoeveel van daai woorde het min of geen doel verrig nie?” sê Marlo Jooste, een van die organiseerders.
“Ons gebruik dikwels woorde soos ‘ek is lief vir jou’, of ‘ek gee om vir jou’ of ‘ek hou daarvan om goed vir mense te doen’, maar hoeveel keer is dit ’n werklik opregte uitdrukking, of is dit maar net ’n geval van lippediens?”
Vir hierdie rede het die SDA-jeug vanjaar se Wêreld-jeugdag met volle mag aangepak en die tema “Liefde is ’n werkwoord” vir ’n dag probeer uitleef.
Die jeug, onder leiding van Wayne da Silva, het besluit om liefde te betoon aan die bejaardes by drie van Langeberg se ouetehuise. “Die groep het voorheen hul jeugdag by verskillende skole en plase gevier, maar vanjaar is die besluit geneem om in kontak te tree met die seniors van ons gemeenskap,” het Da Silva gesê.
Die eerste stop was die Lingelihle Home in Zolani, waar die jongmense tyd saam met die inwoners daar deurgebring het. Daarna het hulle die Bram Care Centre in Ashton besoek en afgesluit by Huis Joseph Matwa in Nkqubela.
“Ons het koortjies gesing en spesiale sangstukke gelewer en gebed en skriflesing met die bejaardes gedeel. Almal is bederf met kospakkies, wat deur Roodehoogte- en Sunbird-plaas moontlik gemaak is. Ons het ook toiletware, wat deur Montagu Foods geborg is, uitgedeel,” het Da Silva bygevoeg.
Die bejaardes is deur die jongmense, wat hul voete en hande gewas en gemasseer het, gepamperlang. Ekstra hand is ook bygesit om die hare en baard van die bejaardes te skeer sowel as van hulle hul maaltye te voer.
“Die Hoërskool Langeberg se leerders was ook deel van die program en het ook gehelp. Volgens juffrou Jo-Anne Jacobs het die leerders die dag vreeslik geniet en dit was ’n riem onder die hart om te kon sien dat hulle ’n nuwe ervaring kon kry in plaas van die moeilike omstandighede wat hulle daagliks trotseer.”
“In Deuteronium 15:11 lees ons: ‘Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.’ Dis uit hierdie oogpunt wat hierdie projekte uitgevoer word en die groep sien uit na die volgende projek waar hulle kan liefde saai,” het Da Silva afgesluit.



