Betogers drom voor die stadsaal op Malmesbury saam om ’n memorandum met griewe oor hoë munisipale rekeninge te oorhandig. Foto: Charlotte Lesch


’n Vreedsame betoging deur inwoners van Ilingelethu en die omgewing van Saamstaan het die afgelope Vrydag (8 Maart) plaasgevind waartydens memorandums oor onder meer swak dienslewering aan verskeie instansies en owerhede in Malmesbury oorhandig is.

Gemeenskapsleiers het vroegoggend reeds ’n memorandum met hul griewe oorhandig aan dr. Tony Hawkridge, direkteur van die Weskus-distrik vir die Wes-Kaapse regering se afdeling vir gesondheid en welstand.

Inwoners het hul misnoeë uitgespreek oor onder meer onvoldoende dienslewering, ’n gebrek aan higiëne en ongelykheid in die aanstelling van personeel by die Malmesbury-dagsorgkliniek in Wesbank.

Volgens gemeenskapsleiers wag pasiënte vir ure aaneen en soms sonder enige hulp, terwyl afsprake wat gemaak is, glo nie nagekom word nie.

Dr. Hawkridge het inwoners met die ontvangs van die memorandum wat aan hom oorhandig is, vir die geleentheid bedank.

“Ek wil graag die gemeenskap en organiseerders van die betoging bedank vir die geleentheid om die memorandum in ontvangs te neem.

“Ek het daardeur gelees en neem kennis van die inhoud,” het hy bygevoeg.

Volgens amptelike terugvoer deur die Wes-Kaapse departement van gesondheid, gaan Dr. Hawkridge en sy bestuurspan by die Swartland-hospitaal die memorandum bespreek, gevolg deur ’n geskrewe terugvoer voor of op 22 Maart soos versoek. Hy het ook sy dankbaarheid teenoor die Swartland- munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling en verkeersdienste vir hul bevoegde toesig tydens die optog uitgespreek.

Ongelukkigheid heers ook in die gemeenskap teenoor die plaaslike departement van maatskaplike dienste.

Gemeenskapsleiers en betogers het die kantoor van die departement op Malmesbury besoek om ’n memorandum aan die bestuurder, Else Koen, te oorhandig. Inwoners is ontevrede oor die sloer van sake en onvoldoende terugvoer wanneer inwoners oor ’n saak opvolg.

Die betogers se laaste stop was by die Swartland-munisipaliteit waar Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester, die memorandum ontvang het.

Inwoners is keelvol vir buitensporige hoë water-en-elektrisiteitsrekeninge.

Betogers het Vrydag reeds antwoorde by Cleophas geëis.

Volgens die gemeenskapsleier Noluthando Beja is die skare vinnig deur hul gemeenskapsleiers onder bedwang gebring en sy is tevrede met hoe die dag se verrigtinge verloop het.

Die Swartland-munisipaliteit sal luidens ’n verklaring die memorandum met inwoners se griewe bestudeer en terugvoering binne die tydgleuf wat deur betogers versoek is, gee.

“Ons het die vreedsame wyse waarin die optog plaasgevind het, waardeer.”

Hoewel bande reeds vroegoggend in die strate van Ilingelethu en Wesbank aan die brand gesteek is, het sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder van die plaaslike polisie, bevestig geen ernstige voorvalle het gedurende die optog plaasgevind of is aangemeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article