Onwettige kreefstropers is onlangs deur lede van die Malmesbury-polisie vasgetrek.
Volgens kapt. Marko Heydenrych, ’n polisiewoordvoerder, het die plaaslike polisie vordering gemaak in hul pogings om die onwettige en winsgewende handel van kreef hok te slaan.
Drie mans, onderskeidelik 20, 23 en 26 jaar oud, is verlede Donderdag (9 Februarie) om 04:15 weens die onwettige besit van Weskus-kreef in hegtenis geneem nadat inligting rakende die verdagtes, wat kreef in ’n wit Toyota bakkie vervoer het, ontvang is. Lede van die Malmesbury-polisie het op die inligting reageer en die verdagtes op die R45-Hopefieldpad voorgekeer.
Die voertuig is deursoek en 266 Weskus-krewe en 935 kreefsterte met ’n straatwaarde van nagenoeg R103 000 is gevind. Die polisie het daarop beslag gelê.
Die drie verdagtes is op aanklagte van die onwettige vervoer van kreef sonder ’n geldige permit in hegtenis geneem. Hulle sal in die Malmesbury-landdroshof verskyn sodra hulle amptelik aangekla word.
Kol. Mzwandile Benjamin Gqabi, die stasiebevelvoerder van die Malmesbury-polisie, het sy dankbaarheid teenoor almal wat toegewyd is om misdaad te help beveg, uitgespreek.



