Hoewel digitale identiteitsdokumente veronderstel is om verbeterde sekuriteit teen identiteitsdiefstal te bied, blyk dit uit verskeie aanlyn bronne dat identiteitsdiefstal en bedrog eerder toegeneem het.

Suid-Afrika se digitale identiteitsbedrog het volgens ‘n studie van die Suid-Afrikaanse bedrogvoorkomingsdiens sedert die grendeltyd in die Covid-19-pandemie eksponensieel gegroei. Volgens dié studie het dit tussen 2023 en 2024 met 400% gestyg.

Weskussers beweeg na ‘n tydperk van verhoogde vertroue op digitale stelsels en aanlyn transaksies, wat ongelukkig nuwe weë vir identiteitsdiefstal skep, aangesien misdadigers kwesbaarhede in hierdie stelsels uitbuit.

Een van die grootste bronne van data-oortredings is wanneer kuberkrakers toegang tot groot databasisse met persoonlike inligting verkry.

Misdadigers koop dié gesteelde persoonlike inligting op die Dark Web om identiteitsdiefstal te pleeg en gebruik phishing-e-posse (uitvissingsboodskappe) en oproepe en skadelike sagteware (malware) om gebruikers te mislei om persoonlike inligting te openbaar.

Identiteitsdiefstal het ‘n invloed op die emosionele welstand van slagoffers, soos wat talle Weskussers die afgelope tyd agtergekom het.

Dit kan egter ook ‘n ernstige uitwerking hê, soos finansiële probleme, skade aan kredietgraderings, die ontkenning van krediet, verlies van werk, verwoeste reputasies en selfs misdaadrekords.

WENKE

Weskussers, sakeondernemings en ander instansies moet maatreëls tref om persoonlike inligting te beskerm:

• Kontroleer gereeld kredietverslae en stel kredietwaarskuwings op om verdagte aktiwiteite te monitor.

• Wees versigtig met persoonlike inligting aanlyn en op sosiale media.

• Wees bewus van phishing-swendelary en moenie persoonlike inligting in reaksie op ongevraagde versoeke per e-pos, SMS, WhatsApp, Facebook of foonoproepe deel nie.

• Beveilig jou persoonlike inligting en maak seker dat afskrifte van jou identiteitsdokument veilig hanteer word.

• Moenie enige inligting gebruik waartoe vermoedelik toegang verkry is nie.

• Gebruik dubbele verifikasie vir alle rekeninge en produkte – veral vir finansiëledienste-produkte.

• Registreer vir SMS-kennisgewings om jou te waarsku wanneer toegang tot produkte en rekeninge verkry word.

• Ondersoek en registreer vir kredietverwante waarskuwings wat deur kredietburo’s aangebied word.

• Gaan jou bankstate gereeld na.

• Bykomende bronne: Your Own Trusted Identity (Yoti); Google AI-bronnelys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article