Die landbougemeenskap van Malmesbury is verlede week geruk deur die skielike dood van Pieter Dreyer (55), ’n geliefde boer van die omgewing.

John Durr, die voorsitter van Agri Malmesbury se skaapstudiegroep, het die volgende huldeblyk aan Dreyer met Gazette gedeel:

“Dit is met groot leedwese en hartseer dat die Skaapstudiegroep van Agri Malmesbury moet afskeid neem van Pieter Dreyer, wat langer as ’n dekade ’n baie getroue en gewaarde lid van die skaapstudiegroep was. Hy het in die tyd ook ’n termyn as voorsitter gedien gedurende die periode toe ons gesukkel het om ’n opvolger vir die vorige voorsitter te kry.

“Pieter was veral instrumenteel en opgewonde om te help met die skep van ’n geleentheid om die jeug se belangstelling in skaapboerdery te prikkel met die jaarlikse Skaapkuddedag se Stockman-kompetisie en het gedurende die veertigjarige herdenking van die geleentheid vanjaar, die Stockman-kompetisie op sy eie skouers geneem en met groot entoesiasme en deeglikheid voltooi.

“Ons as studiegroep sal Pieter onthou as ’n netjiese boer wat lief was vir sy mense en sy boerdery en wat sy kant gebring het in die strukture van georganiseerde landbou, waar hy gedien het.

“Ons sal Pieter se getrouheid en droë humor by vergaderings mis en gun hom die ewige rus.

“Ons opregte simpatie en meegevoel aan sy gesin – llse en die seuns – en dankbaarheid dat ons bevoorreg was om hom met julle te deel.

“Rus sag, ou Boeta. Jou skaapstudiegroepbroers.”

Die gemeenskap sal Dreyer onthou as die hulpvaardige en vriendelike man wat altyd bereidwillig was om handjie by te sit.

’n Geregtelike doodsondersoek is deur die Malmesbury-polisie geopen.

Geen misdaad word vermoed nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article