Die Hoërskool Swartland se o.15A-krieketspan het hul teenstanders behoorlik laat les opsê nadat hulle twee wedstryde met meer as 100 lopies gewen het.
Die span het verlede Donderdag (26 Oktober) Piketberg toe gereis om die Hoërskool Piketberg in ’n T20-wedstryd aan te durf.
Swartland het eerste gekolf en ’n reusagtige 197 lopies aangeteken, met nege paaltjies plat ná 20 boulbeurte. Ruan Fluks en Christiaan Mocke het 44 en 43 lopies onderskeidelik aangeteken – die meeste vir die span.
Piketberg het daarin geslaag om slegs 86 lopies in sy 20 boulbeurte aan te teken. Swartland het die wedstryd dus met 111 lopies gewen.
HS Swartland het Dinsdag 31 Oktober in ’n T20-wedstryd teen Wesbank Sekondêr eerste gekolf en ’n reuse- 191 lopies – met slegs drie paaltjies plat – losgeslaan. Iaan Snyders en Ruan Fluks het die kolfbeurt geopen en tot die 18de boulbeurt saam gekolf met ’n vennootskap van 170 lopies. Snyders het op 82 lopies en Fluks op 73 geëindig.
Wesbank kon egter net 50 lopies haal.
Christiaan Mocke het vier van hul paaltjies geneem en Du Preez Erasmus nog drie.
Swartland het die wedstryd met ’n oortuigende 141 lopies gewen.




