Hierdie skrywe van my is eerstens na aanleiding van die brief van Burrie Leuvennink van Onrusrivier wat in Die Burger van 23 Junie verskyn het.
Ná ’n lang afwesigheid het hy by familie in Robertson gekuier en was geskok oor die toestand van die dorp se paaie.
Tweedens is dit omdat ons by ons terugkeer van ’n twee weke lange reis deur Namibië ook besef het hoe vuil ons dorp is. Dit is ’n briljante idee van ons dorpsvaders om te belê in 200 vullisdromme wat op strategiese plekke in ons dorp en buurdorpe geplaas gaan word. Maar, ons inwoners sal eers opgevoed moet word in die gebruik daarvan.
’n Moedelose magteloosheid het my oorval toe ek twee dae ná ons terugkeer geld by ’n outobank onttrek het. Die wêreld was bestrooi met bankstrokies terwyl daar ’n drom is om dit in te plaas. Is dit luiheid of disrespek vir jouself, jou medemens en die omgewing of gebrek aan behoorlike opvoeding? Solank dit mense nie pla dat die omgewing vuil is nie, die wil nie daar is om nie soos varke te lewe nie, sal meer en meer dromme nie die oplossing wees nie.
Om terug te keer na ons reis in Namibië. Dit was opvallend hoe sleg dit langs ons (RSA) paaie lyk. By stilhouplekke was vuilgoeddromme leeg, omring deur ’n vullishoop. Om tussen al die afval te probeer ontspan en padkos te geniet, was nie eintlik ’n plesier nie. Hoe verder ons van die sogenaamde “beskawing” gery het, hoe skoner het dit geraak. In Namibië was dit heeltemal ’n ander storie. Stilhouplekke was skoon en netjies. Inwoners van dorpe het geweet dat die toeris aan beter gewoond is en het die plekke netjies en skoon gehou. Terloops, toerisme is die grootste inkomstegenererende bedryf. ’n Groot aantal buitelanders besoek hierdie mooi land met sy klein bevolking. ’n Nederlandse toeris het in ’n onderhoud op RSG gepraat van die land as “pure and untouched”. Sou sy dieselfde van ons land kon sê? Kan dit wees dat die Namibiërs meer beskaafd is as ons in Suid-Afrika?
In Swakopmund teken ons by ’n gastehuis in en wat sê die eienaar toe hy hoor ons kom van Robertson af? “Robertson is vuil en die strate is in ’n toestand!”
Dit was nou nie wat ons wou gehoor het nie. Ons wil so graag trots wees op ons dorp, maar hoe kan ons as buitestaanders, toeriste, dit so beleef?
Hy het hier by familie gekuier en hy het ook die agteruitgang gemerk. Hy het ook verduidelik hoe hulle daar te werk gaan. Werkloses word aangestel om sekere areas skoon te hou. Solank dit skoon is, word hulle betaal. Hul mede landgenote besef dit en mors dan nie! Is dit dalk ons oplossing? Sien om na mekaar?
Ek wil afsluit deur te verwys na die artikel in die Gazette (18 Julie 2023) deur Nicole Sherwin, “Plastic-free July: Help save our Environment.”
Wie gaan dit lees en wie gaan ag slaan daarop? Of is dit maar weer ’n gepraat in die wind?




