Groot opgewondenheid het die afgelope week die ronde onder huidige leerlinge van die Hoërskool Swartland, toekomstige leerlinge en inwoners van die streek gedoen nadat die beplanning van ’n hoëprestasiesentrum vir die skool amptelik bekend gemaak is.
Die droom van ’n moderne hoëprestasiesentrum vir die skool het vroeg in 2024 ’n werklikheid begin word nadat beplanning daarvan uiteindelik ter tafel gelê is.
Volgens die HSS sal die sentrum, wat op die skoolterrein opgerig sal word, as ’n hoeksteen dien vir die groei en ontwikkeling van sy leerders. “Dit bied die geleentheid aan alle Swartland-leerders om hulle sportpotensiaal te ontwikkel, maar ook ’n passie vir oefening te kweek, wat ’n positiewe invloed op beide hul fisieke en emosionele welstand sal hê.”
Volgens die HSS hou die sentrum aansienlike voordele vir die breër gemeenskap in.
Die nuwe fasiliteit, wat ’n HPS genoem word, gaan onder meer met ’n volledige gimnasium en kondisioneringsentrum toegerus wees en sluit ’n onthaallokaal, twee binnenshuise krieketnette, fisioterapeute en ’n konsessie-koffiewinkel in. Sportliefhebbers sal ook bly wees om te hoor dat die sentrum geriewe vir die nuutste guur, naamlik padel-bane sal inhou.
Grondwerk skop reeds aan die einde van vanjaar af.
Om by hierdie projek betrokke te raak as donateur, diensverskaffer of om advertensiespasie te bekom, kan die skool se bemarker, Tilde-mari Lourens, by bemarker@swartlandhs.co.za gekontak word.





