Daniel Griebenhouw (30) van Malmesbury se vernuf en kennis op die rolbalbaan is onlangs benut toe hy met ’n bronsmedalje tydens die o.30-WP-meesterstoernooi beloon is.
Die toernooi is op 22 en 23 Junie by die spoggerige Glen-buiteklub by Clifton beslis, waar Griebenhouw daarin geslaag het om ’n gesamentlike derde plek los te speel. Dit is sy tweede bronsmedalje nadat hy gedurende die WP se Kampioen-van-Kampioene-enkelspeltoernooi by die Pinelands-rolbalklub ook ’n derde plek verower het.
Griebenhouw, ’n ywerige sportman wat lief is vir die spel, het reeds op die skamele ouderdom van 12 rolbal begin speel.
Volgens hom het hy graag as kind saam met sy pa by die plaaslike rolbalklub in Malmesbury gaan speel, waarvan hy tot vandag toe steeds lid is.
Hy spog vandag met ’n ongelooflike 18 jaar se ervaring op die rolbalbaan.
Griebenhouw neem eersdaags in Julie aan die WP-rolbalproewe deel, gevolg deur die SA inter-distrikkampioenskappe wat later vanjaar in Pietermaritzburg plaasvind.





