“Alkohol en paaie meng nie –nie vir motoriste of voetgangers nie.”
Dít is die boodskap wat deur verskeie rolspelers by die jaarlikse begin van die Swartland-munisipaliteit se Feestyd-padveiligheidsveldtog oorgedra is.
Die veldtog het Vrydag 1 Desember by die N7-weegbrug op Moorreesburg begin, gevolg deur ’n padblokkade waartydens motoriste ’n voorsmakie gegee is van wat dié vakansie voorlê.
Volgens die uitvoerende burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, Harold Cleophas, is pad- en vervoerveiligheid ’n groter prioriteit weens ’n toename in padverbruikers namate die feestyd nader kom.
“Sommige van die besigste roetes in die Wes-Kaap gaan deur die Swartland, insluitend die R27 en die N7. Daarom wil ons alles moontlik doen om ’n veilige feestyd op ons paaie te verseker,” voeg hy in ’n verklaring by.
Die munisipaliteit se verkeers-en wetstoepassingsbeamptes, asook hul K9-eenheid en beamptes van LEAP (Law Enforcement Advancement Plan), gaan vanjaar reg deur die feestyd aan diens wees.
Die distriksbevelvoerder van die Weskus, genl.maj. Sizakele Dyantyi, sê dit is belangrik dat inwoners en besoekers aan die streek en die Weskus die feestyd in ’n veilige omgewing moet geniet.
“Ons as wetstoepassers moet saamstaan deur nie toe te laat dat motoriste bestuur wanneer hulle alkohol gebruik het nie. Dit sal nie geduld word nie. Die wet gee ons die mag om sterfgevalle op ons paaie te voorkom deur te verseker dat ons nie enige wetteloosheid sal duld nie. Ons gaan seker maak dat padgebruikers die feestyd steeds geniet, maar met verantwoordelikheid,” het hy namens die SAPD gesê.
Dyantyi het veral sy kommer oor matrikulante, wat pas die skool verlaat het en onder die invloed bestuur, uitgespreek en gesê ouers moet waaksaam wees wat dié soort gedrag betref.
Volgens Al-Ameen Kafaar, die adjunk-direkteur van die Wes-Kaapse bestuur van padveiligheid, kom die boodskap dat alkohol en paaie nie meng nie, van alle vlakke van die regering af. “Dit is nie net tot bestuurders beperk nie, maar [ook] voetgangers wat alkohol gebruik.”
Korrektiewe Dienste het ook sy ondersteuning gedurende die geleentheid oorgedra deur sy samewerking te belowe om die gemeenskap veilig te hou.
Roman Steyn van die munisipale verkeer- en wetstoepassingsdienste sê dit is hul missie om openbare veiligheid binne die Swartland- munisipale gebied te verseker, wat in ooreenstemming met die Wes-Kaapse veiligheidsplan sal wees. Volgens hom gaan die hoofoorsake met die hulp van betrokke vennote en rolspelers gekonfronteer word. “Fokusareas is onder meer roekelose en nalatige bestuur en om onder die invloed te bestuur of die pad as voetganger onder die invloed te gebruik.” Steyn sê ook dit is onveilig om te gaan swem wanneer alkohol gebruik word.
Owerhede sal ook op openbare vervoer en die vervoer van onwettige middels fokus, het hy sy versekering gegee.
Die munisipaliteit se wetstoepassing- en verkeersdienste gaan in noue samewerking met ander rolspelers in die streek, insluitend die provinsiale verkeersafdeling en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wees. Die K9-eenheid sal ook betrokke wees deur te fokus op die vervoer van onwettige middels. Hy het afgesluit deur die belangrikheid van die beamptes se veiligheid self te beklemtoon.
Die onderburgemeester, Anet de Beer, het daarby aangesluit deur die onsigbare helde wat die hele feestyd aan diens gaan wees, te bedank. Sy het vakansiegangers gevra om alle wetstoepassers, verkeers- en polisiebeamptes dié feestyd in ag te neem. “Mense waardeer nie altyd om op die pad voorgekeer te word nie, maar hulle vergeet dat ons dit doen vir die veiligheid van die padgebruikers en om oortreders vas te trek. Dankie aan die onsigbare helde vir jul harde werk om almal se veiligheid te verseker. Ons salueer julle.”
Frits Els van die sakekamer in Moorreesburg het alle rolspelers namens sakelui bedank en hul volle ondersteuning aangebied. “Dankie vir jul uitstaande diens. Ons as sake-eienaars waardeer alles wat julle doen.”
Cleophas het afgesluit deur alle inwoners en besoekers te herinner dat veiligheid almal se verantwoordelikheid is.





