Wesbank en Ilingelethu in Malmesbury het Sondagaand in ’n oorlogsone ontaard kort ná ’n gewelddadige mesaanval op ’n jong inwoner.

’n Sewentienjarige seun is Sondagaand (8 Oktober) omstreeks 18:30 met ’n mes in die regterkant van sy bors gesteek toe hy tussenbeide probeer tree het nadat ’n man glo sy vrou aangeval het. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die slagoffer glo die vrou probeer help toe hy noodlottig deur die verdagte met ’n mes gesteek is. Die jong slagoffer is kort ná die voorval na die Swartland-hospitaal gehaas, waar hy aan sy wonde beswyk het. Twee van die slagoffer se vriende is ook tydens die voorval met ’n mes aangeval. Albei is na die Paarl-hospitaal geneem.

Die plaaslike polisie het daarin geslaag om die messteker in hegtenis te neem.

Geweld het kort daarna tussen die gemeenskappe van Wesbank en Ilingelethu uitgebreek toe familie en vriende van die oorledene van die voorval uitgevind het. Huise in Ilingelethu is aan die brand gesteek terwyl nog twee mans van Ilingelethu – onderskeidelik 48 en 50 jaar oud – met ’n mes doodgesteek is. Die slagoffers het ook brandwonde opgedoen.

Niemand kon die misdaadtoneel betree nie weens die gewelddadige aard van die situasie, het Helfrich bygevoeg.

Nabygeleë huise het ook aan die brand geslaan. Die plaaslike brandweer het daarin geslaag om die brande te blus, hoewel altesaam 14 huise, waaronder ’n winkel, in die slag gebly het.

Die uitvoerende burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, Harold Cleophas het sy medelye teenoor die familie en vriende wat deur die voorval geraak is, uitgespreek.

Cleophas het die gebeure namens die munisipale raad en die munisipaliteit ten sterkste veroordeel. “Ek doen ’n beroep op inwoners van Wesbank en Ilingelethu om kalm te bly en die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander wetstoepassing -en nooddienste toe te laat om hul werk sonder vrees of bedreiging te doen,” het Cleophas bygevoeg. Hy het verder beklemtoon dit is ’n misdaad-aangeleentheid wat deeglik deur die SAPD ondersoek moet word sodat geregtigheid kan geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article