Marius van der Westhuizen, die veroordeelde kindermoordenaar wie se parool verlede maand aan hom toegestaan is, sal nie meer môre vrygelaat word nie.
Dit kom nadat die departement van korrektiewe dienste (DKD) besluit het om sy vrylating onder paroolvoorwaardes te hersien.
Die DKD het op 20 Julie vanjaar die nuus bekend gemaak dat Van der Westhuizen, ’n voormalige superintendent in die polisie, op 18 Julie vir ’n derde keer voor die korrektiewe toesig- en paroolraad by die Malmesbury-gevangenis verskyn het.
Van der Westhuizen sou môre Woensdag (31 Julie) op Malmesbury vrygelaat word. Volgens die paroolraad sou hy tot September 2034 met die verstryking van sy amptelike vonnis op parool gewees het.
Die nuwe minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy is nie oortuig dat Van Der Westhuizen nie weer soorgelyke misdade sal pleeg nie.
Die oudpolisieman is in 2011 op drie aanklagte van moord op sy gewese vrou, Charlotte van der Westhuizen, se kind Bianca (16) en hul eie twee kinders, Marius Eben (5) en Antoinette (21 maande), tot 24 jaar tronkstraf gevonnis. Die voorval het in hul huis in Brackenfell gebeur toe hy sy dienspistool gebruik het om die drie minderjarige kinders in hul slaap voor hul ma te skiet.
Die DKD het verlede week ’n verslag van die paroolraad bestudeer en besluit dat sy vrylating ná slegs 13 jaar van gevangenisstraf, hersien moet word. Die hersiening skort dus sy vrylating op totdat die proses afgehandel is.
Die nuus oor sy verwagte vrylating het wye teenkanting onder veral menseregteorganisasies veroorsaak. Charlotte van der Westhuizen het haar op haar beurt ook reeds in November 2023 in ’n pleidooi na sosiale media gewend vir ondersteuning van die publiek in ’n poging om die raad te oortuig dat parool nie toegestaan kan word nie.
Die DKD se aanvanklike verklaring oor Van Der Westhuizen se parool-vrylating het gestaaf dat hulle van mening is dat hy verantwoordelikheid vir sy dade aanvaar het.
Van der Westhuizen het ook volgens die verklaring voldoende terapeutiese behandeling en rehabiliterende ingryping ondergaan.



