Caritas by Temenos is een van die pragtige venues by die McGregor-gedigtefees. Foto: Dani’s Photos

Credit: Daniele Debellis

Die Gedigtefees in McGregor is die afgelope dekade as een van die mees gewilde literêre feeste in Suid-Afrika gevestig.

Billy Kennedy, die stigter van die fees, sê: “Vanjaar kyk ons terug na die wonderlike reis tot dusver. Tien jaar is vir ons ’n baie spesiale mylpaal om te vier. Ons is dankbaar dat so baie digters en woordliefhebbers ons visie oor die jare met uitbundige passie en vrygewigheid ondersteun het.

“Die fees word weer vanjaar by Temenos as anker vir die naweek se verrigtinge aangebied. Ek hoop dit wat ons hier geskep het, sal diegene wat die naweek saam met ons kom geniet, inspireer om saam met ons op die voetpaadjies van die woordkuns te bly loop, sodat ons ons rolle as bewaarders van die innerlike en uiterlike wildernis heelhartig deur poësie bly uitleef.”

Vanjaar se fees bestaan uit 65 aanbiedinge, wat ’n ook paar oopmikrofoonsessies insluit vir dié wat spontaan hul gedigte wil kom deel.

Antjie Krog, Wendy Woodward, Ian McCallum, Harry Owen, Ilze Olckers, Jacques Coetzee, Kobus Moolman, Ilze Olckers, Archie Swanson, Stephen Symons, Lara Kirsten, Sue Woodward en Diana Ferrus (saam met Die Mengelmoes Digters), is deel van die lang lys indrukwekkende digters op vanjaar se program.

Die fees bied ook ’n spesiale geleentheid deur John Maytham van ’n geskrewe teks van Finuala Dowling, geïnspireer deur vanjaar se feestema.

Nuwe stemme soos Nondwe Mpuma, Lisa Julie en Jadrick Pedro verteenwoordig die groeiende skatkis van woordkuns- talent in ons land.

Gedigte in Afrikaans en Engels van die jaarlikse gewilde alternatiewe zine Ons Klyntji sal voorgelees word deur Sindiswe Busuku, Tom Dreyer, Churchil Naudé, Curtley Jones, asook twee van Ons Klyntji se redakteurs, Toast Coetzer en Alice Inggs.

Die fees bied ook 11 boekbekendstellings wat die naweek gevier gaan word. Douglas Reid Skinner, Willem Fransman jr., Christine Coates en The Phoebe Book of Poems for Children, saamgestel deur Patricia Schonstein, is onder meer op die program vir nuwe bekendstellings. Die “Poetry in McGregor 2021 Anthology” word ook bekendgestel. Dit is een van die jaarlikse hoogtepunte op die feesprogram.

The jeugprogram sal kuns, fotografie en gedigte-werksessies vir ongeveer 90 leerders ’n week voordat die feesverrigtinge begin, aanbied. Dit sluit graad 1-tot 12-leerders van McGregor Fountain Waldorf Skool, McGregor Primêr en McGregor Kollege in.

Die volle program is op die webtuiste poetryinmcgregor.co.za.

Bespreek kaartjies deur Quicket.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article