Die familie van ‘n 20-jarige verkragting-slagoffer hul misnoeë teenoor die Malmesbury-polisie in ‘n verklaring uitgespreek nadat niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.
Die verklaring, wat tans die ronde op WhatsApp-groepe doen, lui die familie is ontstoke en oorweeg dit om sake “in eie hande te neem” ter wille van hul kinders en die gemeenskap se veiligheid omdat die vermeende beskuldigde steeds op vrye voet is.
Sers. Henry du Randt, ‘n woordvoerder van die Malmesbury-polisie het die voorval bevestig. Volgens hom het die slagoffer vroeg die Sondagoggend (6 Julie) omstreeks 05:30 weens iemand se teenwoordigheid wakker geskrik.
Die verdagte se gesig was volgens haar bedek. Slegs sy oë was sigbaar. “Hy het ‘n mes teen haar keel gehou en haar beveel om nie ‘n geluid te maak nie. Sy is uit die huis gedwing en na ‘n aangrensende hokkie geneem waar hy haar verkrag het. Die verdagte het te voet gevlug.”
Du Randt sê hoewel die gemeenskap ‘n moontlike verdagte identifiseer het, is niemand nog in hegtenis geneem nie. Volgens hom kon die klaer nog nie die oortreder identifiseer nie.
“Die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) hanteer tans die saak en is gereeld in kontak met die klaer om enige leidraad wat kan bestaan, op te volg,” voeg Du Randt by.
Die familie het verder gesê verskeie van die slagoffer se besittings en geld is gesteel voordat die verkragting plaasgevind het.
“Die slagoffer is medies ondersoek en die forensiese span het vingerafdrukke en ander bewyse op die toneel geneem.
“Ongeag die leidrade en die identiteit van die oortreder wat bekend gemaak is, het die polisie daarin versuim om op te tree,” lui die verklaring.
Die familie is volgens die verklaring hartgebroke, ontstoke en vinnig besig om hul vertroue in die stelsel van geregtigheid te verloor. “Ons doen ‘n beroep op die media, menseregtegroepe en gemeenskapsleiers om saam met die familie te staan,” sluit hulle die verklaring af.



