Gesondheidsdienste in die Langeberg het sedert 1 Mei vanjaar ’n nuwe bestuurder wat sy kundigheid by die bestaande span voeg.
Die projek het een doel voor oë: Om ’n diens te lewer wat mense se nood met menswaardigheid en omgee benader . . .
Om dít te doen, moet dr. Nellis Beyers en die res van die span van Wes-Kaap Gesondheid en Welstand hul spreekwoordelike eendjies in ’n ry kry. Hy herinner homself en sy span daaraan deur letterlik eendjies in ’n ry op sy lessenaar te pak – ’n eenvoudige voorbeeld in kontras met die taak wat voor hom lê.
“Gesondheid is kompleks en mense se lewe is in ons hande,” sê hy.
Aangesien hierdie veld ook elemente uitdagings bied soos kliëntediens en voorraadbeheer, benader hy dit soos die bestuur van ’n sakeonderneming waar jy waarde wil toevoeg.
Dr. Beyers het sowat agt jaar se bestuurservaring en sê in die Langeberg bevind hy hom in ’n span en omgewing waar reeds baie werk gedoen is om dienste so na as moontlik aan mense sonder te veel oponthoud te lewer. Personeel doen dit deur verskeie mobiele klinieke wat uitreikdienste lewer, tien klinieke en twee distrikshospitale.
Hulle het ook verskeie vennote wat hierdie werk ondersteun.
Hy wil graag planne wat reeds opgestel is om infrastruktuur-uitdagings die hoof te bied, bespoedig en die strukture versterk sodat personeel selfs beter in staat sal wees om pasiënte te dien.
“Probleme maak my nie bang nie, maar opgewonde, omdat oplossings beskikbaar is,” sê dr. Beyers. “Ek geniet pasiëntsorg en om probleme op te los. Mense kom sien oorwegend gesondheidswerkers omdat hulle ’n probleem het. Ek het in die bestuursrigting inbeweeg omdat ek besef dis deel van hoe ek geskep is – om probleme op te los.”
Dr. Beyers beskryf homself as ’n stedeling wat altyd in die platteland wou woon – ’n droom wat nou vir hom en sy gesin bewaarheid is. Hy geniet die omgee en hartlikheid wat hy hier aantref.
“Ons wil waarde toevoeg tot die belastingbetaler se geld wat aan ons toevertrou is, deur ’n diens te lewer wat mense se nood met menswaardigheid en omgee sal help oplos.”
Gesondheidswerkers wil hande vat met die gemeenskap en vra die gemeenskap moet verantwoordelikheid vir hul gesondheid neem.
“Daar is nie ’n pil wat jy kan neem of ’n inspuiting wat jy kan kry om jou ’n gesonde leefstyl te gee nie. Besluit om verantwoordelik op te tree: Neem jou kind vir monitering voordat hy ernstig siek is; bestuur versigtig; tree veilig op,” vra hy.
“Suid-Afrika het baie mense wat ’n verandering wil en kan maak, en dis lekker om deel te wees daarvan. Hier is ruimte om ’n impak te maak, en dit is dus baie bevredigend.”




