Na afloop van ’n deeglike aansoek- en keuringsproses werk die Swartland-munisipaliteit tans om kontrakte van die suksesvolle applikante vir entrepreneurspunte in Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes finaal af te handel.
Die munisipaliteit sê in ’n verklaring hierdie entrepreneurs sal binnekort hul nuwe ruimtes in die gebied kan betrek.
Luidens die munisipaliteit het hy vier vraghouers aangeskaf – twee vir elke dorp – wat sal dien as sakepersele vir die vier suksesvolle aansoekers.
“Die bemagtiging van entrepreneurs is deel van Swartland se strategie om geleenthede vir kleinondernemings te skep om hulle suksesvol in die gemeenskap te vestig. Die entrepreneurs, wat die persele by die munisipaliteit huur, is almal plaaslike inwoners van Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes,” lui die verklaring.
Die munisipaliteit het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam te werk om die vraghouers te beskerm terwyl die finale reëlings met die intrekkers afgehandel word.
“Die gevaar bestaan ongelukkig dat vandale die vraghouers kan beskadig, wat die planne vir suksesvolle plaaslike ondernemings in die wiele sal ry. Daarom vra ons inwoners om asseblief bedag te wees en enige vandalisme te staak of dadelik by ons wetstoepassers aan te meld. Die munisipaliteit het eenvoudig nie die geld om die eenhede te vervang of te herstel nie, en dit sal jammer wees as die optrede van misdadigers en kwaaddoeners die geleenthede van ’n hele gemeenskap saboteer.”




