So lyk die emmers wat beskikbaar gestel word om rommel op die strand by Yzerfontein op te tel.


Inwoners en besoekers kan nou die strand help skoonhou terwyl hulle langs die see stap.

En as bonus word elkeen boonop wat help, met ’n roomys of ’n wegneemkoffie beloon.

Dit is die inisiatief van die Yzerfonteinse inwoner Glen Millar in samewerking met Yzerfontein Bewarea en die Swartland-munisipaliteit.

Yzerfontein Bewarea het op aanbeveling van Millar in Oktober vanjaar ’n voorstelling aan die munisipaliteit gerig vir die implementering van die rommel-emmerprojek.

Die voorstel was dat altesaam 10 emmers en 50 bioafbreekbare plastiekvullissakke elke Saterdag in ’n houer by die ingang van die hoofstrand geplaas word.

Die hoop is dat strandgangers nou ’n emmer en ’n vullissak saam met hulle sal neem wanneer hulle strand toe gaan,” verduidelik Millar.

Die vullissakke kan daarna in die groot Bewarea-dromme gegooi word, terwyl die emmers vol rommel by die Breeze Café-of die Milk & Yum-stalletjies ingehandig kan word in ruil vir ’n gratis roomys of ’n cappuccino.

Die rommel word dan in vullissakke weggegooi. Die emmers word gehou en weer die daaropvolgende Saterdag terug in die houer geplaas.

Die motivering vir die projek is om ’n kultuur in Yzerfontein daar te stel waar inwoners en strandgangers die strand met behulp van die emmers en vullissakke sal help skoonhou.

“So skep ons ’n voortgaande poging om die strand skoon te hou,” lui die voorstelling.

Die volgende fase van die projek sluit ’n verdere nege soortgelyke houers by elke openbare toegangspunt tot by Pearl Bay in. Die inisiatief is om later groter vullisdromme langs die reeds kleiner dromme op te rig, waarin die vullissakke gegooi kan word. Slegs vullissakke sal aan strandgangers beskikbaar gestel word om saam met hulle te neem.

Yzerfontein Bewarea hou ook gereelde strandskoonmaak-sessies en probeer die plaaslike gemeenskap by dié soort projekte betrokke te kry sodat hulle trots kan wees op hul dorp, sê Hilary England van Bewarea.

“Die plastieksakke wat op ons strand uitspoel, is een van ons grootste bekommernisse,” voeg England by.

Bewarea het verder ’n houer met sakkies op strategiese punte langs die strand vir mense met honde geplaas. “Die inisiatief is baie gewild en word ondersteun deur die plaaslike munisipaliteit wat die houers gereeld weer vul en die dromme leegmaak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article