Daar’s ’n wonderwerk in elke dag weggesteek. Hou net jou oë oop om dit raak te sien, het ons oudste ouma op 91 gesê. Ek het dié resep lank gevolg, maar die gewoonte om ’n wonderwerksoeker te wees, het iewers weer vervaag.
Intussen het die droewige tye waarin ons woon, my geleer om weer ligpunte te soek – en hulle te koester. Hier is ’n paar nuus-opkikkers: . ’n Suid-Afrikaanse entrepreneur se cool koelboks word deesdae in Harrods verkoop. Lee Hartman kon nie vrede maak met doodgewone koelhouers nie. Hy het kreatief begin dink en hard gewerk aan Fieldbar-koelbokse – en daarmee sy plek op Harrods se rakke verdien.. ’n Gratis ligpunt is die natuur met sy vele verrassings (as ons genoeg kere buite kom om dit te sien!) Benewens lila-pers jakarandablomme wat ons nou bederf, is ’n nuwe malvaspesie onlangs ontdek – nogals in die waterskaars Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark.
Hierdie pelargonium met “reusagtige blomme” verskil heeltemal van voorheen geïdentifiseerde spesies in die omgewing, vertel Pieter van Wyk, die parkkurator. . Vroeër vanjaar het ’n vrou ’n tuin-akker ingevaar en dit met plante wat maande later steeds vrolik blom, beplant. En nee, dit was nie haar eie tuin nie – sy wou ’n vriendin wat talle operasies moes trotseer, só ondersteun. Die operasie-dramas is nou oorwin, terwyl die blomme naby die voordeur steeds iemand se omgee uitbeeld.. ’n Matriekseun wat met vlieënde vaandels slaag nog voordat die eindeksamen begin? Dís die verhaal van Taariq Hendricks (18) van die Hoërskool Pinelands. Die lugdiens Safair het Taariq se Springbok-ontwerp gekies as versiering vir die vliegtuig waarmee die Bokspan met die Webb Ellis-trofee deur Suid-Afrika getoer het. . Wat gebeur as ’n mens 80 word en geen geskenke vir jouself wil hê nie? Jy nooi jou vriende en vra hulle moet jou geboortedorp help mooimaak. Dis wat die oudrugbyspeler Jan Louw (aka Janboel) gedoen het. Toe sy vriende van oral uit die Wes-Kaap in Williston opdaag, was daar baie aksie en minder te ete (neem kennis, Mnr. Ramaphosa!)
Janboel het toegesien dat almal eers aan ’n 5 km-pretloop deelneem, dat die VGK se basuin-orkes speel en 15 amandelbome reg deur die dorp geplant is – en toe moes almal begin buk om vullis op te tel. . Intussen vind ek hoop by elke wêreldbeker-krieketwedstryd, want dit bly die plek waar topboulers en -kolwers hul harte uit speel – en windmakerige spelers weer nederigheid leer. En watter land het lekkerder tuisskares vir krieket as juis Indië?
Tydens die laaste poelwedstryd tussen Engeland teen Pakistan het Pakistanse stertkantboulers besondere karakter openbaar. Weens Engeland se 337/9 was daar min kans vir ’n Pakistan-oorwinning, tog kom staan Haris Rauf en Mohammad Wasim Jr vierkantig voor die penne en slaan hul sesse en viere.
Dis nie asof Wasim en Rauf (16 en 35 lopies) geglo het hulle is onoorwinlik nie, maar hul lyftaal het gewys: “Die laaste paaltjie het nog nie geval nie.”
Wat ’n voorbeeld. Nou “kolf” ek weer moedig voort.





