Eerste vroue-hoof vir Laerskool Riebeek-Kasteel in eeu en ‘n half

Isabella Geldenhuys (naaslinks) sal van 1 Oktober af as die eerste vroulike skoolhoof in die geskiedenis van die Laerskool Riebeek-Kasteel dien. Ouers en lede van die beheerliggaam wens haar geluk met haar aanstelling.

Eerste vroue-hoof vir Laerskool Riebeek-Kasteel in eeu en ‘n half

Isabella Geldenhuys (naaslinks) sal van 1 Oktober af as die eerste vroulike skoolhoof in die geskiedenis van die Laerskool Riebeek-Kasteel dien. Ouers en lede van die beheerliggaam wens haar geluk met haar aanstelling.

Die Laerskool Riebeek-Kasteel verwelkom die eerste keer in 152 jaar ‘n vroulike skoolhoof, Isabella Geldenhuys.

Geldenhuys (46), ‘n gebore Noord-Kapenaar wat haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley afgesluit het, het sommer vroeg in haar lewe geweet sy wil eendag ‘n onderwyseres word terwyl sy as jong meisie graag skool-skool gespeel het.

Ná matriek het sy die pad na die Wes-Kaap gekies en as ‘n student by KPUT se Wellington-kampus aangesluit, waar sy haar graad in onderwys verwerf het.

Haar eerste pos as onderwyseres was by die Laerskool Drakenstein. Kort daarna het sy die liefde van haar lewe ontmoet en na Riebeek-Kasteel verhuis. Gelukkig was daar ook talle skole en sy het in 2006 as ‘n graad 4-onderwyseres by die Laerskool Riebeek-Kasteel begin.

Ná agt jaar as ‘n gr.-4-juffrou het Geldenhuys ‘n nuwe uitdaging gesoek en die gr.-6-­ leerders begin onderrig. In 2018 was sy op soek na nog ‘n uitdaging en het vir die departementshoof se pos aansoek gedoen.

Die soeke na ‘n volgende uitdaging het haar verlede jaar wéér aan die enkels kom beetkry. Met die aftrede van die skool se voormalige hoof, het Geldenhuys vir dié geleentheid gespring.

Nie net ‘n ‘klein skooltjie’ nie

Dié ma van twee tienerdogters is op 3 September van haar amptelike aanstelling in kennis gestel. Sy dien egter al sedert verlede jaar in Augustus as waarnemende skoolhoof. “Ek was so verlig nadat die nuus aan my bekend gemaak is,” vertel sy opgewonde en met groot dankbaarheid.

Haar toekomsdrome vir die skool is groot en tasbaar nadat sy reeds hard aan haar visie vir die Laerskool Riebeek-­Kasteel gewerk het. Volgens haar behoort dié laerskool ‘n plek vir die gemeenskap te wees en nie net bloot as “ ’n klein skooltjie” in die platteland beskou te word nie.

Sy meen dit is nodig om vooruit te dink. “Die skool moet eksklusief wees.”

Geldenhuys is veral opgewonde oor die gevestigde Eight Feet-koffiewaentjie op die skoolterrein, waar ouers soggens reg kan begin en waar kommunikasie plaasvind.

Dit is ook nie noodwendig meer nodig vir leerders om hul tuisdorp te verlaat en elders skool te gaan nie. Hier kan jy selfs “graad vang”. Geldenhuys brei uit en vertel hoe akademie reeds op kleutervlak by hul kleuterskool, Kasteeltjies, begin, wat ook dien as ‘n nasorg, wegspring, gevolg deur Graad R en laerskoolonderrig. Die laerskool het nie ‘n hoërskool nie en ouers word daarom genoodsaak om hul kinders by skole buite hul tuisdorp in te skryf.

Vir dié leerders is tuisondererig nou ‘n opsie danksy die teenwoordigheid van Brave Generation Academy, wat sy deure in Januarie vanjaar in samewerking met die laerskool geopen het. Hoewel die akade­miese sentrum die Amerikaanse en Britse kurrikulum volg, is die nasionale onderwysdepartement se kurrikulum – beter bekend as Caps – ook in die pyplyn.

Sport ook nou deel

Die hoërskoolleerders het ook nie meer nodig om hul liefde vir sport prys te gee nie nadat Geldenhuys met die skoolhoofde van nabygeleë plaaslike hoërskole in verbinding getree het, wat dié ­Kastelers in staat stel om hul skole op sportvlak te verteenwoordig. Tot tersiêre onderrig is reg hier in die vallei beskikbaar.

Die laerskool het in ‘n plasing ­bevestig hulle beskou Geldenhuys se aanstelling as ‘n besonderse mylpaal in die geskiedenis van die Laerskool Riebeek Kasteel. “In die 152-jarige bestaan van ons skool maak Geldenhuys geskiedenis deur die eerste vroulike skoolhoof te wees.

“Haar aanstelling is ‘n bewys van haar toewyding, leierskap, passie vir onderwys en onwrikbare verbintenis tot die ontwikkeling van ons leerders en die breër skoolgemeenskap. Ons sien met groot vertroue uit na die nuwe hoofstuk onder haar.”

LEES OOK: Van leerder tot skoolhoof

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article