AO Nicolette Visagie spreek tieners toe oor die gebruik van onwettige dwelms. Foto: Verskaf


Die Swartland se plaaslike dwelm-aksie-komitee (LDAC), ’n komitee wat uit verskeie rolspelers bestaan om die dwelmkrisis onder skoolleerders aan te durf, het onlangs ’n besoek by die Hoërskool Moorreesburg afgelê om die gevolge en nadele van dwelmgebruik te verduidelik.

Die inisiatief het reeds vroeg in April vanjaar met verskeie besprekingsessies tussen leerders en hul ouers begin.

Een van die sessies is deur die komitee, die Moorreesburg-polisie, verteenwoordigers van die Weskus-distriksmunisipaliteit, ’n maatskaplike werker van ACVV Moorreesburg en die Hoërskool Moorreesburg behartig, waartydens die gevare en newe-effekte van dwelmgebruik en verkeerde keuses bespreek is.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se junior kommissarisse Tazmin Faro, San-Mari Nel en Petra Arries was ook teenwoordig om daadwerklik ’n impak onder leerders te maak, omdat “die jeug by die jeug leer”, sê AO Nicolette Visagie, ’n woordvoerder vir die Moorreesburg-polisie.

“Met hierdie sessies kort ons ook ons ouers se betrokkenheid. Ons kan nie die probleem holisties oplos as ouers nie betrokke is nie.”

Die SAPD doen ’n beroep op ouers om deel te word van die sessies, belang te stel en op te tree wanneer dit by hul kinders kom. “Onthou, families is die hoeksteen van een gesonde samelewing. As die familie verbrokkel, verkrummel die samelewing. Help ons om saam die stryd teen dwelmmisbruik en sy gevolge te bestry,” het die komitee by die geleentheid gevra.

Die reeks sessies duur vir drie maande voort waartydens ’n ander tema weekliks bespreek sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article