Duurste ooi: Piet Wessels (BKB), Jan Venter (koper) saam met seuns Daniël en Jan, Rozann Fivaz, Koos de Wet (verkoper), Seuntjie Minnie en Billy Lyons (afslaer).

Die duurste ram wat op die 69ste nasionale veiling van die SA Vleismerinotelersgenootskap verkoop is, kom uit Porterville. Jan Vosloo, rasdirekteur by die telersgenootskap sê die duurste ram is vir R82 500 verkoop. Die gewilde veiling het op 6 Augustus gedurende die Bloemfontein Skou plaasgevind.

“Daar was altesaam 55 ramme op die veiling. Elke eienaar mag slegs drie ramme inskryf en word hulle dus uitgesoek wat die veiling gesog maak,” verduidelik hy.

Volgens hom het die ram waarop die hoogste bod van die dag onder die ramme toegeslaan is, ‘n uitstekende fisieke bou, goeie spierontwikkeling en ‘n sterk bouvorm. Vosloo meen egter dat al die diere wat op die veiling te koop was, uitstekende genetika het.

Hoewel die topram nie ‘n rekordprys gehaal het nie, bly dit steeds ‘n baie goeie prestasie vir die verkoper, voeg hy by.

Gawie Carstens van Porterville en Joubert Nolte van Paarl het die ram (3089 SVM) gekoop wat aan Jean Cillié van Septemberskraal in Porterville behoort het.

Duurste ram
Van links is Billy Lyons (afslaer), Caspir Schmidt (bestuurder oor Lewendehawe by BKB), Gawie Carstens (mede-koper), Du Toit en Riana Cillié (ouers van die verkoper, Jean Cillié) en agter hulle is Piet Wessels (BKB).

Die gemiddelde prys van ramme was sowat R 21 545, terwyl die gemiddelde prys van die 37 stoetooie R4 959 per ooi was. Die topooi (ooi 3122), is deur Koos de Wet van Graaff-Reinet verkoop. Jan Venter van Bloemfontein het dié teen R8 000 gekoop.

Vosloo voeg by dat die gemiddelde verkoopppryse afgeneem het te midde van die landboubedryf wat reg deur die bank oor die algemeen steeds onder druk is. Verlede jaar se topram het R130 000 gehaal. “Vleispryse lyk tans goed, maar insetkostes bly styg. Landbou verkeer in ‘n koste-knyptang wat beteken boere se winsmarges word tussen groeiende insetkostes en produsentepryse ingedruk,” voeg hy by. Vosloo is egter baie tevrede met hoe die veiling afgeloop het. “Die kompetisie is altyd geweldig hoog,” sê hy opgewonde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article