Die Springbok Pieter-Steph du Toit saam met sy ouers, Annalene en Pieter du Toit, ná ’n vorige kragmeting tydens die 2023-Rugbywêreldbeker. Foto: verskaf


Springbokondersteuners is dit eens dat die senuwees gedurende Sondagaand se naelbyt-rugbywêreldbeker-kwarteindstryd tussen Frankryk en Suid-Afrika behoorlik geknaag het.

Daniël du Toit, broer van die Bok-flank Pieter-Steph du Toit, ’n oudleerder aan die Hoërskool Swartland, het Maandagoggend van hul familieplaas Kloovenburg buite Riebeek-Kasteel bevestig sy en sy hele gesin se senuwees was behoorlik “op”.

“Ons het vanoggend (Maandag 16 Oktober) op ons familiegroep gesels en saamgestem almal moet maar vroeër vir ’n afspraak by die kardioloog gaan,” skerts hy.

Suid-Afrika het Sondagaand met ’n telling van 29-28 oor die Hane geseëvier, wat die Bokke ’n plek in die halfeindronde verseker het.

Pieter-Steph se vrou, Willemien, hul twee kinders, sy ouers, Pieter en Annalene du Toit, en sy skoonfamilie was Sondagaand deel van die skare by Stade de France naby Parys om hom te ondersteun.

Daniël voeg by sy broer het die afgelope wedstryd as baie spesiaal beskryf – juis omdat sy familie by hom was.

Sy skoonma, Ilse van Zyl van Malmesbury, het Maandagoggend uit Parys die atmosfeer binne die stadion as ongelooflik beskryf.

“Dit was so spanningsvol, maar so spesiaal. Die atmosfeer was elektries. Die Franse was oorverdowend. Dit was hoendervleismooi,” het sy vertel.

Volgens Daniël het Pieter-Steph erken sy hele lyf was die volgende oggend “nogal seer” ná die harde wedstryd, maar hy het ook gesê hul gemoedere is hoog.

Sy ouers en gesin bly intussen in Frankryk aan om hom te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article