Druiwesap kan nou ook gebruik word om cider te maak. Tot dusver was slegs peersap as ’n 25% aanvulling tot appelsap toegelaat in die vervaardigingsproses.

Die wynbedryfliggaam, Vinpro, het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se besluit om voorsiening te maak vir die gebruik van druiwesap in die vervaardiging van ciders, verwelkom.

Nuwe wetgewing maak nou voorsiening vir die gebruik van ander vrugtebasisse, mits minstens 75% van die vrugtebasis wat gebruik word van appels afkomstig is.

“Ons is bly oor die besluit, ná uitgebreide twaalf maande lange konsultasie met die Wyn- en Spiritusraad,” sê Christo Conradie, Vinpro-bestuurder vir wynbesigheid.

Conradie sê die wysiging is in lyn met internasionale standaarde en verseker die behoud van die gehalte van Suid-Afrika se siders.

“Benewens die vermindering van die risiko en kostes verbonde aan die invoer van appelsapkonsentraat, kan vervaardigers nou ondersteuning aan plaaslike druiweprodusente bied en help om die wynbedryf se hoë surplus te stabiliseer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article