Kleinkinders van Ma Shelly het ook hul waardering vir hul ouma gewys. Fotos: Murphy Roberts


Een van Darling se oudste inwoners het Sondag (30 Junie) haar 90ste verjaarsdag saam met haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gevier.

Shelly Frans, wat nog goeie gesondheid geniet, vertel sy kook nog self en verrig huistakies.

“Ek sukkel wel met die bene, maar ek kom goed oor die weg met my kierie,” vertel sy opgewonde. En boonop gebruik sy op dié ouderdom geen medikasie nie.

Verder vertel sy ook sy glo die rede vir haar lang, gesonde lewe is die feit dat sy nog nooit gerook of gedrink het nie.

“Mense in Darling kom na my vir raad – veral oor allerhande kwale,” vertel Ma Shelly.

“Die geheue lol wel ’n bietjie, maar ek laat nie die kinders my verneuk met my kleingeld nie,” glimlag sy.

Ma Shelly is op die plaas Pampoen-vlei buite Darling gebore, waar sy met haar groot liefde getrou en twaalf kinders in die wêreld gebring het.

Ma Shelly sê sy loop deesdae nie alleen rond nie omdat sy weet die skelms is baie bedrywig hier.

“Ek verkies om myself in en om die huis besig te hou.”

Ma Shelly se groot dag is behoorlik by die Darling-sportklubhuis gevier saam met haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders en is met ’n heerlike ete afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article