Groot opgewondenheid bou in die Breërivier-vallei op vir ’n seldsame musiekgebeurtenis.
Die gewilde Kaapstadse Filharmoniese Orkes tree die eerste keer in Robertson op en wel op Sondag 8 Oktober om 3nm stiptelik. Hierdie besondere konsert word in die Oos-Kerk aangebied.
Om dié dag nog dieper betekenis te gee, word die sprankelende musiekprogram ten bate van Eseltjiesrus Donkey Sanctuary op McGregor aangebied. Eseltjiesrus bied ‘n permanente veilige hawe vir donkies wat uit haglike omstandighede gered is, mishandel is of nou bloot net pensioentrekkers is.
Die konsert word hierbenewens ook gehou om die klem te plaas op musiek se rol om mense bymekaar te bring.“Deur borgskap van ‘n aantal kaartjies probeer ons om jonger en ouer mense te betrek om saam die voorreg van puik musiek te geniet. Dit sou andersins dalk nie vir hulle moontlik wees nie. Publieke ondersteuning van die borgskap vir ouetehuise, kore, jeugorganisasies en musiekstudente sal deur almal hoog waardeer word,” sê Johan van Zijl, die organiseerder.
Die orkes bestaan uit 55 talentvolle musici van alle kultuurgroepe en bied ‘n program met uitsonderlike musiek wat tereg Musiek vir almal genoem word. Die samekoms het ’n tweeledige doel: die genot van goeie musiek en steun vir die welsyn en versorging van donkies.
Kaartjies sal gou verkoop en is reeds by toerismekantore in Robertson, Montagu en McGregor beskikbaar. Die verkooppunt in Worcester is in Durbanstraat by die dierekliniek. Kaartjies kan ook aanlyn gekoop word deur adopt@donkeysanctuary.co.za per e-pos te kontak. Vir enige navrae skakel 023 625 1593.





