Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBS) doen ’n beroep op die publiek om dringend bloed te skenk.

“Die taxi-staking het ons bloedvoorraad negatief geraak. Dit is hoofsaaklik as gevolg van personeel wat nie by die werk kon kom nie en sommige van ons bloedskenk­klinieke moes óf vroeër óf in die geheel sluit. Verlede week kon ons dus nie die geteikende aantal eenhede insamel nie,” sê Marike Carli, openbare-betrekkinge-bestuurder by WKBS.

Die WKBS ervaar ’n kritieke tekort in die O- en B-bloedgroepe. Die A-positiewe bloedvoorraad is ook onder druk aangesien slegs ’n driedaagse voorraad oorbly. Die WKBS streef altyd daarna om ’n bloedvoorraadvlak van vyf dae te hê.

Die WKBS sê dit bly noodsaaklik om die Wes-Kaap van voldoende, veilige bloed te voorsien. Die diens doen ’n beroep op nuwe en gereelde skenkers om so gou as moontlik bloed te skenk. As jy tussen 16 en 75 is, 50 kg of meer weeg, goeie algemene gesondheid het en ’n veilige seksuele leefstyl lei, behoort jy te kan skenk. “Ons wil graag die publiek verseker ons is ten volle operasioneel ten spyte van die huidige probleme. Ons sal enige veranderinge soos datums en tye aan ons bloedskenkklinieke op ons webwerf en op sosiale media opdateer.”

Vir meer inligting, besoek www.wcbs.org.za, WKBS se Facebook-blad of stuur ’n WhatsApp na 060 549 7244. Doen iets merkwaardig en skenk bloed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article