SKOU-FOTO’S| Diversifiseer besoekersekonomie om toerisme na die Weskus uit te brei

Die Weskus-distriksmunisipaliteit se hoof van toerisme, Heinrich Robertson (middel) het die afgelope week by vanjaar se Swartland-skou ‘n paneelbespreking tussen verskeie gassprekers gelei. Bo gesels hy met James Vos, ‘n raadsheer van die Stad Kaapstad en burgemeesters- komiteelid vir ekonomiese groei; Riaan Engelbrecht van Namaqua Koffie; en Mark Botha, ‘n boer in die Cederberg wat sy plaas danksy rotsklim in ‘n internasionale bestemming ogeskep het.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit se hoof van toerisme, Heinrich Robertson, het die afgelope week gedurende vanjaar se Swartland-skou, paneelbesprekings op die skouterrein saam met verskeie gassprekers aangebied, wat tot insiggewende gesprekke gelei het.

Een van die gesprekke was onder meer tussen James Vos, ‘n raadsheer van Stad Kaapstad en die burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei; Riaan Engelbrecht, ‘n boer van Lutzville en die eienaar van Namaqua Koffie; en Mark Botha, ‘n boer in die Cederberg, wat sy plaas danksy rotsklim in ‘n internasionale bestemming omgeskep het. Die landbouprodusente het meer vertel oor hoe hulle die hulpbronne op hul plase in toerismebestemmings en produkte omgeskep het wat uiteindelik deel is van die nuutse konsep binne die toerismebedryf, naamlik agri-toerisme.

Die WDM het ‘n insiggewende paneelbespreking daaroor aangebied en hoe om toerisme na die Swartland -en Weskusgebied uit te brei.

Met Kaapstad as een van die gewildste toerismebestemmings ter wêreld, het Robertson Vos gevra hoe daardie instroming van toeriste na die Weskus gelok kan word. “Hoe kan Kaapstad die Weskus help om sy toerismepotensiaal ten volle te benut en te bereik?” het hy gevra. Volgens Vos is hul doelwit juis om te kyk hoe die geografiese verspreiding van toerisme reggekry kan word sodat toerisme nie net op ‘n spesifieke ekonomie fokus nie, maar ‘n balans tussen ervarings, produkte en dienste gevind word.

Volgens hom toon navorsing besoekers aan die Wes-Kaap wil nie net na ‘n hotel of ‘n strand of ‘n berg gaan nie, maar na goed wat plaaslike mense as deel van hul alledaagse lewe doen.

FOTO’S| Die 91ste Swartland-skou is vanjaar met groot sukses tussen 3 en 6 September in Moorreesburg aangebied. Die skoukantoor sal later vandeesweek die amptelike syfers vir besoekers aan die skou bevestig.

“Ons moet daardie produkte as ‘n kern gebruik om die hele streek te bemark. As ‘n besoeker in Kaapstad land, bly hy nie net in Kaapstad nie. Dit is hoe ons aanknoop by mekaar, wat die uiteindelike sukses vir die hele toerisme-ekonomie sal wees.”

Hy meen dit is belangrik om ander produkte te nader sodat die ervaring tot die res van die streek kan diversifiseer.

Vos het drie belangrike eienskappe van toerisme gedurende die paneelbespreking identifiseer, naamlik die vrolikheid, die egtheid en ook die vindingrykheid van die landbouprodusente. “Toerisme is ‘n baie mededingende sektor, maar dit is baie meer as net bemarking. Ons moet gaan kyk hoe saamgewerk kan word om vir die reisiger, die besoeker, die toeris (wat elkeen ‘n spesifieke definisie het) die hele ervaring te bied en aan al hul behoeftes voldoen.”

Hy het verduidellik ‘n toeris is byvoorbeeld iemand wat vir ten minste twee aande oorbly. “In Kaapstad alleen het 2,4 miljoen mense verlede jaar vir twee nagte oorgebly. Dit is ‘n belangrike ekonomiese aanwysing, omdat dit die twee sleutelkommoditeite uitwys – naamlik tyd en geld. Dus moet die vraag gevra word hoe ons besoekers langer in ons omgewing of dorp kan hou. Daarom moet ons diversifiseer.”

Hy sê verder dit is belangrik om daarop te let dat die Swartland of Porterville nie net ‘n plek vir toeriste of reisigers is nie. “Dit is ‘n plek met produkte en dienste. Vir ‘n plek om ‘n goeie plek te wees om oor te bly, moet dit ook ‘n goeie plek wees om te besoek. Ons moet die basiese goed regkry, wat bemarking soveel makliker maak. Jy moet daarom die kos, die gemeenskap en die avontuur wat daardie plek te bied het, bemark. In al daardie fokusgebiede gebruik ons produkte om die storie te vertel. Die tyd is verby om jou plek net in die buiteland te bemark.

“Wat beteken dit vir besoekers?”

Die kollig word dus geplaas op die ervarings, die gebeurtenisse en die aktiwiteite wat uiteindelik die trekpleister sal wees om mense na jou bestemming te lok en terselfdetyd daardie bestemming markgereed te maak,” verduidelik hy verder. Vos meen ‘n vol program moet vir besoekers gebou word sodat daar nie tyd of geld gemors word om te soek na iets om te doen of watter attraksie om volgende in jou area te besoek nie. “Toeriste, reisigers en besoekers aan ons streek vereis ‘n vol program sonder verwarring sodat hulle nie geld sal verloor nie.”

Hy sê verder konnektiwiteit is ook ‘n sleutelfaktor om toeriste met ander streke te verbind. Volgens hom is die lughawe ‘n venster tot ander bestemmings. “Tans land 226 internasionale vlugte weekliks in Kaapstad vol besoekers, toeriste, beleggers en reisigers. Dit is ‘n slim bemarking wat daartoe sal lei dat daardie persoon by ‘n plek of produk op pad na sy bestemming gaan stilhou.

“Nog ‘n belangrike punt is vooruitbesprekings wat solied is. Sonder vooruitbespreking kan jy nie jou besigheid bou of jou produk as volhoubaar bemark nie. Om jou bestemming of produk te gaan bemark, moet volhoubaarheid betrokke wees, die basiese elemente moet reg wees en die prys moet reg wees omdat mededing groot is.”

Vos benadruk dit is belangrik om daardie geografiese verspreiding reg te kry, aangesien geld in die plaaslike ekonomie sirkuleer.

“Die agri-toerismekonsep is iets waarvan ons ‘n groot geleentheid kan maak,” voeg hy opgewonde by.
Hy herhaal dat samewerking van kardinale belang is. “My doelwit is om Kaapstad se syfers op te stoot, maar ek kan nie die besoeker 24 uur ‘n dag vir sewe dae ‘n week daar hou nie, want hy wil die res van die streek besoek. Daarom moet daar nouer samewerking wees.

“Weet wat jy bemark, hoe jy dit moet bemark en vir wie jy bemark,” sluit Vos af met dié raad aan elkeen in die plaaslike toerismebedryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article