Welstand en gesondheid, insluitend geestesgesondheid, word al ’n geruime tyd as belangrike aktuele kwessies en besprekingspunte geag. Oktober is Geestesgesondheidsbewustheidsmaand met die Wêreld-Geestesgesondheidsdag wat op 10 Oktober gevier is.
Vanjaar se tema is “Maak Geestesgesondheid en -welstand vir almal ’n wêreldwye voorkeur”.
Geluk en gesondheid sluit ook finansiële vryheid as ervaring in, aangesien dit al hoe meer duidelik word dat Suid-Afrikaners voortdurend finansieel stresvolle situasies in die gesig staar. Bewustheid oor geld sowel as doelgerigte gedrag rakende die bestuur van jou geld is nou belangriker as ooit om te verseker dat jy jou finansiële rykdom en algemene gesondheid beskerm.
Carla Oberholzer, DebtSafe se woordvoerder en skuldadviseur, sê stres wat verband hou met jou geldsake en skuld, raak jou sowel as mede-Suid-Afrikaanse verbruikers se gesondheid, en dit is nie alleenlik ’n ekonomiese kwessie nie. “Om voortdurend oor geld bekommerd te wees, is nie gesond nie en word gewoonlik met fisieke simptome (wat jou algemene gesondheid beïnvloed) verbind, soos byvoorbeeld jou geestelike en emosionele gesondheid en welstand.”
Meer as 1 300 respondente (uit die 1 400 in die algehele deelnemergroep) van DebtSafe se 2022- Suid-Afrikaanse verbruikers se finansiële realiteitsvraelys/-opname het onlangs beklemtoon finansiële stres beïnvloed hoofsaaklik hul: . stresvlakke (52%), . slaappatrone (28%), . algemene gesondheid (26%), . besluitnemingsvermoë (19%) en . verhoudings (14%).
Andrew Visagie, ’n kliniese sielkundige (MSc), verduidelik: “Talle Suid-Afrikaners se welstand klassifiseer as ‘ongesteld’ weens hul huidige geestelike, verhoudingsverwante en fisieke gesondheidstoestand – soveel so dat Suid-Afrika tot die bodem van die ‘Geestestoestand van die Wêreld’-verslag se 2021-lys gedaal het.”
Hierdie verslag meet die geestesgesondheid van 34 lande oor die wêreld heen.
“Een uit elke ses Suid-Afrikaners sal in hul leeftyd aan angs, depressie of dwelmmisbruik ly, en dit is slegs diegene wat uitreik om hulp,” bevestig Visagie.
Visagie beklemtoon dat “Suid-Afrikaners daagliks trauma hanteer, op adrenalien hardloop en hoofsaaklik vanuit ’n ‘oorlewing-modus’ funksioneer”.
“Vanuit ’n finansiële perspektief, sien ek gereeld dat van my kliënte bo hul vermoë leef, waar geld oor ego en ’n maatstaf van hul waarde gaan. Vir die teenoorgestelde groep kliënte (wat alles verloor het), gaan geld alles oor oorlewing. Dus dui hierdie benaderings duidelik op ’n gebrek aan geldbewustheid en wat geld vir hulle beteken. Hulle fokus weinig aandag op die prys wat hulle betaal om dit te verdien.”
Oberholzer verduidelik: “Om ’n gesonde, geldbewuste (doelgerigte of deurdagte) ingesteldheid te hê en om impakvolle daaglikse aksies aan die gang te kry, word jy in staat gestel om jou finansies deur enige situasie te help bestuur. Uiteindelik kan dit jou help om terug te keer na finansiële vryheid, terwyl dit jou ook indirek motiveer om jou angs te verminder en te verseker dat jy jou algemene gesondheid en welstand ongeskonde hou.”
So, hoe kan jy jou algemene gesondheid respekteer en wat kan jy gedragsgewys doen om in jou daaglikse doen en late meer geldbewus te word?
Visagie en Oberholzer se gesamentlike aanbevelings wat jy kan oorweeg:
1. “Soek eerstens hulp as jy depressief of angstig voel. Dit is belangrik om van jou traumas te genees en jou gedagtes weer in lyn te kry sodat jy die oorvloed geleenthede wat beskikbaar is, kan raaksien en waardeer. Indien jy reeds met slaappatrone en gesondheidskwessies sukkel as gevolg van vorige gebeurtenisse wat jy nog moet oorwin, maak seker dat jy ’n aanbevole en geregistreerde gesondheidsorgpraktisyn raadpleeg. Dit kan jou help om die bykomende ondersteuning en nie-veroordelende holistiese sorg te kry wat jy nodig het.” stel Oberholzer voor.
2. “Moenie die doelwitte (insluitend jou finansiële doelwitte) wat jy in ’n jaar kan bereik, oorskat nie. Moet ook nie onderskat wat jy in tien jaar kan doen nie. Om te leer om deur die struikelblok te werk en die proses met ope arms te ontvang, sal jou oorvloedige dryfkrag en die motivering gee om in jou doelwitte te slaag. Hoop word gebore uit die stryd wat jy aanpak. Dus, indien jy oorverskuldig is, kry jouself stelselmatig uit hierdie posisie,” beveel Visagie aan.
Oberholzer sê jy kan begin deur:. jou nuutste bankstate uit te druk,. jou bestedingslekkasies uit te snuffel en dit in die toekoms vermy (byvoorbeeld weeklikse wegneemetes, ’n gimnasiumlidmaatskap of televisiepakket/-intekening wat nie gebruik word nie), en. rekeninge (skuld) een vir een te delg – begin met die kleinste skuld eerste en gaan daarna na die volgende een toe (implementeer met ander woorde die ‘sneeubal-effek’). Sy beveel aan om met jou krediteure te onderhandel of geregistreerde professionele hulp in uitdagende gevalle en situasies te bekom.
3. Oberholzer sê wanneer dit by jou daaglikse roetine kom, moet jy hou by dit wat jy nodig het en nie dit wat jy graag wil hê nie. En dink voordat jy jou bankkaart gebruik wanneer jy inkopies gaan doen. “Onthou om nie buite die seisoen waarin jy is, te leef nie, en moenie met by die ‘Joneses’ probeer tred hou nie,” sê Visagie.
4. Visagie stel ook voor om geduld te kweek sodat jy jou verskeie (insluitend finansiële) doelwitte kan bereik. Hy meen jou môre kan definitief anders (en beter) as vandag lyk wanneer jy begin met klein stappe (dit maak nie saak hoe moeilik dit dalk kan wees nie). “Moenie te hard op jouself wees nie en moenie onnodige stres en verwagtinge op jou bord laai nie,” motiveer Oberholzer.
Oberholzer raai verbruikers aan om met geregistreerde professionele individue te gaan praat en ’n ingeligte besluit te maak indien: . jy gedurig oor jou finansiële situasie stres,. as jou inkomstebedrag nie kan byhou met jou skuldbedrae en finansiële verantwoordelikhede nie, . wanneer jy gereeld dreigemente en oproepe van jou krediteure of skuldinvorderaars ontvang,. indien jy reeds agterstallig is met jou skuld- terugbetalings,. wanneer jy reeds probeer het om jou inkomste te verhoog en jou algehele skuldbedrag te verlaag, maar niks wat jy doen, help nie, of. wanneer jy geld gebruik (wat eintlik vir jou lewenskostes eenkant gesit word) om jou skuld te probeer betaal, dan kan die skuldhersieningsproses die finansiële oplossing wees wat jy benodig om beheer te neem van jou skuld en jou angstigheid (weens oorverskuldigheid) verminder.
“Geestesgesondheidbewustheidsmaand is die perfekte geleentheid om vriendelikheid sowel as algehele gesondheidbewustheid (wanneer dit by finansiële sake kom) te bevorder en die nodige aanmoediging ten toon te stel om professionele hulp te verkry wanneer dinge net te veel raak en jy nie langer die las alleen kan (en wil) dra nie,” sê Oberholzer.




