Ná jare se droom, beplanning en harde werk staan die Hoërskool asook die Laerskool Dirkie Uys se splinternuwe hokkie-astrobaan trots en glimmend op die geleentheid van die amptelike inwyding op 9 April 2025.
Die ontwikkeling van die baan het op 22 Julie verlede jaar begin.
Die inwyding van die astrobaan was deel van die eerste fase van die Dirkie Uys Tiere-sportparkprojek in Moorreesburg. Hierdie massiewe ontwikkeling het sy oorsprong te danke aan die plaaslike gemeenskap, sakelui, ouers en hokkieliefhebbers van die skool.
“Ons opregte dank en waardering aan die nasionale lottery wat ná al die voorbereidings die ontwikkeling van die hokkie-astrobaan ruimhartig geborg het,” het HDU tydens die geleentheid gesê.
‘n Spesiale dank is ook aan Overberg Agri as die hokkie-ankerborg van die hoër- en laerskool uitgespreek.
Die rugbyveld reg langs die baan se gras is ook onlangs oorgeplant as deel van die skool se visie vir ‘n topgehalte sportpark vir almal. Die toekomstige omheinde Tiere Sportpark, wat streng veiligheidsmaatreëls met toegangsbeheer sal toepas, pronk nou met ‘n veeldoelige astro-hokkiebaan met beligting wat hokkie en ander sportsoorte sal huisves.
Inwoners kan uitsien na nuwe netbalbane met die nodige beligting vir groot byeenkomste. Die sentrum sal ook ‘n 50-m-swembad, gebou volgens Olimpiese standaarde, bevat – ideaal vir swemgalas.
Die sportpark sal ook doeltreffende parkering vir besoekers en sportlui bied, met gerieflike badkamergeriewe vir alle leerders en besoekers.
‘n Klubhuis rond die kompleks af, wat die nodige sosiale ruimte vir almal bied.
“Dankie dat julle hierdie droom saam met ons ‘n werklikheid gemaak het. Die Tiere is trots en reg om hokkie te speel.”








You must be logged in to post a comment.