Op die vooraand van die 200 jaar herdenking van Dirkie Uys se geboortedag (3 Maart 1823) het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) die Hoërskool- en Laerskool Dirkie Uys in Moorreesburg besoek.
Dié skole is in 1938 met die simboliese Ossewatrek- en Groot Trek- eeufeesvieringe na Dirkie Uys hernoem. Die skoolhoof van die Hoërskool Moorreesburg, wat daardie jaar in ’n hoër- en laerskool verdeel het, het voorgestel dat die skole na Dirkie Uys herdoop word.
Die FAK se Kaapse Kultuurnetwerke het dié twee skole besoek om die heldedaad van Dirkie Uys oor te dra en het ervaar hoe die klein vyftienjarige Dirkie Uys leerders vandag steeds inspireer.
Met die intrapslag by die hoërskool is sketse van die kinderheld teen die muur bokant die ontvangstoonbank sigbaar. Tydens pouse het al die 15-jarige seuns in die skool nader gestaan vir ’n foto, want dit was die ouderdom van die kinderheld toe hy sy lewe uit liefde vir sy pa opgeoffer het.
Hierdie groep seuns laat ’n mens opnuut besef hoe jonk Dirkie Uys was.
Dané Joubert, ’n leerder aan dié skool, sê: “Dirkie Uys se verhaal laat my dink oor my verhouding met my pa. Ek is dankbaar ek het ’n pa in my lewe. Ek dink ek gaan van nou af my verhouding met my ouers meer waardeer.”
Twee seuns met die naam Dirk is in hierdie skool. Dirk du Toit (15) staan nader, geklee in die skool se Dirkie Uys-uitrusting, vir ’n foto by die skoolhek.
By die Laerskool Dirkie Uys vertel een van die ontvangsdames, Almarie Rautenbach, hoe sy as kind in volume 8 van die Kinders van die wêreld-reeks gereeld die verhale van kinderhelde gelees het en hoe dit elke keer ’n diep indruk op haar kindergemoed gemaak het.
’n Beeld van Dirkie Uys is in 1972 by dié laerskool onthul.
Die lede van die FAK het ’n wyle saam met die skoolhoof en die skool se leerderraad by hierdie beeldjie vertoef en die realiteit ingeneem van ’n jong seun wat sy lewe vir sy vader afgelê het.
Op die vraag of hulle dieselfde vir hul pa’s sou doen, is die reaksie van die seuns sonder huiwering ’n “ja”.
Die gaste het die groep jong leiers voor die skoolsaal met ’n laaste foto by hul skoolwapen gegroet.
Die skool se leuse is “Wees getrou” – getrou soos Dirkie Uys aan sy pa was, maar ook getrou in alles wat hulle aanpak, hetsy dit akademie of sport is – en dít is hoe Dirkie Uys hierdie skool se leerders inspireer.




