Een van die minibustaxi’s wat vroeg Donderdagoggend in die botsing betrokke was. Die bussie het skoolleerders van Darling na Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury vervoer.


Hoërskoolkinders van Darling het geringe beserings opgedoen nadat hulle in ’n botsing tussen twee minibustaxi’s betrokke was.

Volgens sers. Jonathan Filander van die Darling-polisie het die botsing op die Darling/Malmesbury-pad naby die Morningstar Primêre skool plaasgevind.

Die bestuurders van die twee minibustaxi’s was beide na Malmesbury onderweg toe die ongeluk gebeur het.

Beide taxi’s het hoërskoolkinders van Schoonspruit Sekondêr van Darling af vervoer.

Volgens Filander het die een bestuurder na bewering weens die mistige omstandighede teen die agterkant van die ander taxi gebots. Die presiese omstandighede rakende die voorval word nog ondersoek.

Altesaam ses leerders tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar is vir geringe kop-, nek- en rugbeserings na die Swartland- en die Grootte Schuur-hospitaal geneem. Die res van die leerders is ongedeerd na die skool geneem.

Nog ’n leerder het kort ná die ongeluk gekla oor rugpyn en is na die plaaslike hospitaal geneem.

’n Klagte van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article