Die Swartlandse digter, skrywer en fotograaf Rudolph Willemse was Saterdag in gesprek met Daniël Hugo by die Tuin van Digters in Wellington oor sy derde digbundel, Swartland.
Willemse, wat in Riebeek-Kasteel woon, het vertel hierdie manuskrip was reeds by die uitgewers toe Ashwin Arendse van Malmesbury opspraak verwek het met sy debuutbundel Swatland. In erkenning aan Arendse se Swatland, het Willemse ’n gedig oor die Swartland geskryf en dit as eerste gedig in sy bundel geplaas.
Willemse sê sy gedigte verwys dikwels na die omgewing, dat hy die Swartlandstreek as metafoor van die wyer wêreld benut, en dat ironie soos ’n goue draad deur sy gedigte loop. Hy is ook ’n fotograaf en werk nou hard daaraan om nog twee fotoboeke die lig te laat sien.





