Talle Yzerfonteiners het Maandag (5 Augustus) hul vierpotige vriende na die plaaslike gemeenskapsaal vir ’n gratis inenting teen hondsdolheid geneem. Dit volg nadat twee positiewe gevalle by robbe in die see by Yzerfontein bevestig is. Janica Chapman, ’n dieregesondheidstegnikus van die Wes-Kaapse departement van veeartsenykunde in Malmesbury, het op 15 Julie altesaam 11 robbe, wat op die strand uitgespoel het, vir hondsdolheid getoets. Altesaam 13 robbe het aanvanklik vroeër in Julie op die strand uitgespoel. Die departement het daarom alle inwoners vir ’n gratis inenting as ’n voorsorgmaatreël genooi. Volgens Chapman was die dag ’n groot sukses met rye troeteldiere wat sy die een ná die ander ingeënt het. Die eerste positiewe gevalle van hondsdolheid is op 5 Augustus 2022 in die omgewing van Kommetjie by robbe bevestig. Intussen is 17 positiewe gevalle van hondsdolheid by robbe langs die kus in die Wes-Kaap aangemeld. Foto: Janica Chapman


Diere ingeënt oor robbe

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article