Vinpro
gesels elke maand met ’n kelder oor hul onderneming – dit wat hulle laat wakker lê en dit wat hulle hoop gee.
“ ’n Goeie wyn sal altyd verkoop! Maak ’n wyn wat die wingerd en sy omgewing die beste na vore bring,” sê Jacques Bruwer, eienaar en keldermeester van Bon Courage Wynlandgoed.
Die Bon Courage-wynlandgoed is in die skilderagtige Robertsonvallei geleë – 9 km buite Robertson langs die R317. Die plaas is sedert 1927 die tuiste van drie opeenvolgende geslagte Bruwers.
Hulle verbou sowat 170 hektaar wingerd, waarvan hulle ’n groot en diverse reeks wyne maak. By Bon Courage bied hulle ’n uitgesoekte wyn vir elke verbruiker, geleentheid en smaak – van Cap Classique tot wit- en rooiwyne, asook ’n gefortifiseerde wyn. Sowat 60% van hul wyne word uitgevoer, teenoor 40% wat plaaslik verkoop word.
“Wat Bon Courage veral spesiaal maak, is die feit dat ons as ’n familieonderneming almal self aktief betrokke is. Ons wyne word op die landgoed verbou, gemaak en gebotteleer, wat beteken dat ons beheer het oor elke aspek van ons wyne – van die wingerd tot die bottel. Daarom kan jy altyd van die beste gehalte verseker wees,” voeg Bruwer by.
Hulle het sowat 60 mense permanent in diens en maak nie gebruik van seisoenswerkers nie. Hul mense woon en werk op die plaas en sommige kom al vir geslagte saam, wat aan hul span ’n gees van samehorigheid gee.
“Ons het geleer om saam te staan, meer as ooit vantevore. Almal moes by die onbekende aanpas, maar met goeie spanwerk het ons positief gebly. Ons het ook geleer om buite die boks te dink en op ons sterkpunte te fokus.”
Soos met die meeste wyne, dra wingerdligging tot die eindproduk by, en dit is juis hul eiesoortige terroir wat ’n groot rol in veelsydigheid vervul.
“Ons is geseënd met drie riviere wat deur die plaas vloei en oor miljoene jare het dit verskeie grondtipes meegebring. Vandag help hierdie goeie en uiteenlopende terroir ons om ’n groot verskeidenheid wyne te produseer. Onverdeelde aandag word aan elke druifsoort gegee om sy volle potensiaal as wyn te bereik. Ons streek is ook besonder vrugbaar. Die vallei het goeie kalkgrond en genoegsame watertoevoer uit die Breederivier. Ons het ’n droë klimaat, wat besproeiingsbeheer vergemaklik en ook daartoe bydra dat ons wingerde gesonder bly wat siektes betref,” verduidelik Bruwer verder.
Uit ’n toerisme-oogpunt is die streek nie gekommersialiseer nie en word dit vir seker gekenmerk deur inwoners se uitsonderlike gasvryheid.
“By Bon Courage laat ons ons lei deur kliënte se behoeftes en ons plant gewoonlik wat die mark benodig. Ons is tans besig om ons parskelder te moderniseer om ons prosesse te vergemaklik en sien met ons nuwe toerusting uit na die 2022-pars. Ons het onlangs ons hand gewaag aan die gewilde “bag-in-box”-verpakking vir ons oorsese mark, en dit doen tot dusver baie goed. Een van ons gewildste wyne gaan ook binnekort met ’n nuwe etiket pronk en ons is opgewonde om te sien hoe die mark hierdie verandering gaan ontvang.”
Spanwerk is vir hulle baie belangrik – hetsy op hul eie plaas of met medeprodusente.
“Ons glo wyn word in die wingerd gemaak en die ideaal is om dit so eenvoudig moontlik te hou – met die minimum inmenging – sodat ons ’n wyn kan skep wat vir homself praat. Onthou – ’n goeie wyn sal altyd verkoop.”





