Die Swartland K9-eenheid het onlangs suksesvolle arrestasies uitgevoer terwyl hulle voertuie deursoek het as deel van verskeie misdaadbekampingsoperasies in die streek. Foto: Argief/Swartland Gazette

Credit: SYSTEM

Die Swartland en Overstrand K9-eenhede het bewys hulle huiwer nie om op te tree teen misdadigers nie.

Dié eenhede het tussen 21 Februarie en 5 Maart 28 verdagtes weens verskeie oortredinge in hegtenis geneem. Van die 28, is agt in die Swartland vasgetrek tydens verskeie misdaadbekampingsoperasies waar daar ook op ’n verskeidenheid onwettige artikels beslag gelê is.

Altesaam sewe voertuig-kontrolepunte is in die Swartland-streek uitgevoer terwyl 22 voertuie deursoek is. Hulle het ook 18 persele deursoek. Daarby is daar op verbode middels van R4 700 beslag gelê.

Wes-Kaapse minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen meen misdadigers teister gemeenskappe en voel daarom bemoedig daardeur dat die K9-eenhede streng optree teen die ongure karakters.

“As deel van ons kruis-munisipale bewaringspogings het ek onlangs by albei eenhede aangesluit tydens operasies in Swellendam en Saldanhabaai, waar hulle gewys het hoe effektief hulle is om ander wetstoepassingsagentskappe by te staan. Hierdie suksesse is ’n herinnering aan diegene wat óf aktief betrokke is by kriminele aktiwiteite óf dit oorweeg om ’n lewe van misdaad te begin dat ons vriende het met ’n uitstekende reuksintuig en ’n stel skerp tande wat jou sal opspoor en help om jou agter tralies te sit.”

Volgens Allen is die hoofdoelwit van die K9-eenheid om as ’n misdaadbestrydingsmag te dien vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander rolspelers.

“Die eenheid doen dit deur die opsporing en soek van smokkelware, veral onwettige dwelms, vuurwapens en ammunisie. Die eenheid verleen ook bystand aan die departement van bosbou, visserye en omgewingsake om die onwettige handel in perlemoen, kreef en ander marine produkte hok te slaan.

“Veiligheid oor die hele Wes-Kaap bly ons prioriteit, en daarom sal ons voortgaan om hierdie eenhede te versterk sodat hulle meer sukses kan behaal om uiteindelik veiliger gemeenskappe te verseker,” het Allen beklemtoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article