Die Swartland Gazettevier vanjaar die koerant se deelname aan 110 jaar se koerantwese in die streek.
De Zwartlander het in Mei 1914 die eerste keer verskyn. Dit was destyds ’n staatskoerant.
Die koerant het hierna heelwat veranderinge gehad wat eienaarskap en naam betref. In die 90’s was daar twee titels, die Swartland/Weskus Tempo en die Swartland Monitor – beide in private besit. Cobus van der Merwe en sy broer André het die Swartland Monitor in Oktober 1989 gekoop.
Media24 het die Swartland/Weskus Tempo en Swartland Monitor in 2002 gekoop en die titel na Die Swartlander verander. Die sirkulasie van Die Swartlander was toe sowat 3 500 per week.
Nóg ’n plaaslike gemeenskapskoerant, Die Swartland en Weskus Herald, wat aan Gerard Grobler behoort het, het hierna op die toneel gekom. Ná September 2008 het Grobler die koerant se naam na Die Tempo verander.
Die twee weekblaaie, naamlik Tempo en Die Swartlander, het in Maart 2010 onder die beheer van Media24 saamgesmelt en Die Swartland Monitor geword.
Die Swartland Monitor het in Mei 2011 ’n gratis titel as Swartland Monitor Gazette geword.
Een maand later, op 16 Junie, is die naam Swartland Gazette ingestelen die koerant staan vandag nog só bekend.
Die 110 jaar vieringe lei ook ’n nuwe tydperk in die koerant se bestaan in nadat dit onlangs deur Novus Holdings by Media24 gekoop is.
Die Swartland Gazette sal voortaan saam met sy susterskoerante in die plaaslike gemeenskapsnuus-afdeling onder die Novus Media-vaandel handel dryf.
Dit sluit 37 uitgawes van plaaslike koerante in.
André van der Veen, uitvoerende hoof van Novus Holdings, het vroeër sy entoesiasme uitgespreek oor die samewerking met die personeel en bestuur van al die gemeenskapskoerante.
Hy het die versekering gegee dat Novus daartoe verbind is om waarde aan lesers sowel as adverteerders te lewer, met erkenning van die belangrike rol wat gemeenskapskoerante in die samelewing vervul.
Novus is toegewyd aan die ondersteuning en verbetering van hierdie belangrike publikasies.
Esmé Smit, hoofbestuurder van gemeenskapsnuus by Novus Media, is ewe opgewonde oor die geleenthede wat hierdie oorgang vir die gedrukte en digitale hiper-plaaslike-nuuslandskappe bied.
Sy beklemtoon die unieke en gekoesterde plek van hiper-plaaslike-nuus-media in die harte en gedagtes van die gemeenskappe wat dié publikasies bedien.
“Die oorgang het ten doel om die gehalte van ons publikasies te verbeter, om te verseker dat hulle relevant bly en verbind is met die gedeelde ruimte waarin ons leef.”
Smit voeg by: “Ons sal aanhou om daar te wees wanneer die meeste winkeldeure die eerste keer open, en berig oor plaaslike sport, skolenuus, munisipale nuus en gemeenskapsaangeleenthede, en sal ons lesers te alle tye ingelig hou oor opbouende nuus, maar ook oor enige onsmaaklike praktyke in ons gebiede.
“Ons sal voortgaan om ons doel te dien, naamlik om ’n ware vriend vir elke huishouding in ons verspreidingsgebied te wees.”
Vir nuus, navrae of om in die Swartland Gazette te adverteer, stuur asseblief ’n e-pos-navraag na nuus@swartlandgazette.co.za




