Vier karakters wat ons deur die jare leer ken het; ’n karakter wat terug is in ’n poging om vrede met haar verlede te maak; twee nuwe spanlede wat hulle by die eenheid aansluit; reeksmoordenaars wat Byl en sy span tot die uiterste toets en een wat hulle telkens ontglip en al meer met makabere dade tart.

Dít is wat op kykers wag in die vyfde seisoen van die immergewilde reeks Die Byl, wat van vandag (Dinsdag 16 Januarie) 2024 om 20:00 weer op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien is.

Byl (Waldemar Schultz) geniet uiteindelik outonomie oor die eenheid, maar die nuwe lede in die span – en veral die sielkundige wat aangestel is om die span se psigiese welstand te monitor – maak dit nie aldag maklik nie.

Byl se steunpilare – Juan (Marvin-Lee Beukes), Nicki (Milan Murray) en Lena (Lika Berning) – is steeds daar, maar die sluipskutter Jo Verwey (Amalia Uys) konsulteer nou as wapendeskundige en help Byl en sy span waar sy kan.

Kaptein William Miller is die nuwe profileerder wat in Lena se plek aangestel word – stil en aantreklik, maar ongeërg oor sy voorkoms. Hy is uiters bekwaam en kan die sjarme aandraai wanneer dit nodig is, maar hy dra swaar aan ’n deel van sy verlede.

William kom uit ’n ryk familie en sy pa, ’n psigiater, het gehoop hy gaan in sy voetspore volg. Hy het egter forensiese profilering gekies en in Ierland studeer. Daar het hy met ’n Ierse vrou getrou, maar nadat sy haar stryd teen depressie verloor het, het William na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het Byl genader, wat dadelik sy potensiaal sien en hom in Lena se plek aanstel.

Tyrone Keogh, wat die rol van William speel, het jonk reeds in die vermaakbedryf begin werk en was in verskeie advertensies te sien voordat hy ’n regisseur van musiekvideo’s en advertensies geword het. Sy pa is die akteur Danny Keogh en sy ma, Debbie, is ’n filmvervaardiger. Hy is bekend vir rolle in The Wild, Dominion, Black Sails en The Girl from St. Agnes.

Dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is die nuwe patoloog wat by die span aansluit en is ’n gesogte spesialis in sy veld. Hy en dr. Fritz het mekaar goed geken, maar stry al jare lank om te wys wie die beste is. Anton, wat voorheen getroud was en die pa van twee is, is ’n gesoute skaakspeler en waardige teenstander vir Byl.

Ander spelers wat gereeld verskyn, is Ira Blanckenberg as die sielkundige dr. Mia Labuschagne, Jacques Bessenger as die joernalis Alex Kruger, en Anrich Herbst as kapt. Buks Botha.

Aan die produksiekant word hierdie seisoen van Die Byl deur ’n sterk span gedryf met ’n groep talentvolle vroue wat die leisels gehou het. Die reeks is deur Elmarie Botha, Berdene Burger, Lorraine Burger, Igna Botha en Tina Kruger geskryf met Elmarie as storiebeplanner en vervaardiger. Berdene is die oorhoofse reeksregisseur. Nina Swart en Liezl Spies was ook in die regisseurstoel.

“Herman Binge en Leon Kruger het ’n enorme aandeel in die sukses van Die Byl gehad,” sê Elmarie. “Hul afsterwe in 2021 het ’n reuse-leemte gelaat. Dit het die kreatiewe en tegniese spanne motiveer om absoluut alles wat hulle het, in die nuwe seisoen te sit. ’n Mens wil glo hulle sou trots wees op wat ons verrig het.”. Die Byl begin vanaand (Dinsdag 16 Januarie) om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article