Nie in my wildste drome het ek gedink om tydens my chemobehandeling só ondersteun te word nie.
Laat my dus toe om deur middel van hierdie weg my dank aan ’n ieder en ’n elk te betuig.
Toe ’n kwaadaardige tumor vroeër vanjaar uit my liggaam verwyder is, is ek ’n bietjie van stryk gebring. ’n Groot dankie aan Juf. Sanette (RVS-skoolhoof) wat dadelik besluit het sy wil help en begin geldinsamelings hou. Sy is deur my kollegas, leerders, vriende en die Robertson-gemeenskap ondersteun.
My dank gaan ook aan Round Table en anonieme mense wat geld oorbetaal het. Baie dankie aan Spar, wat die inisiatief geneem het om die ‘Marial Burger Special’ te verkoop. En dankie aan elkeen wat ’n burger gekoop het.
Dankie aan die stokvelgroep wat gevoel het hul geld moet na my toe kom, ’n boer wat kiste wyn opgeveil het en naburige skole wat burgers verkoop het.
Dit is hoe ek die afgelope tyd geseën is!
Dankie vir elke gebed, boodskap, oproep, besoek, verrassingspakkie en drukkie wat so nodig was tydens my 67 dae onder chemobehandeling. Elkeen se bydrae en liefde word opreg waardeer.



