Pemmy Majodina, die nasionale minister van die departement van water en sanitasie, het die afgelope Donderdag (29 Augustus) uit Riverlands terugvoer oor die voorlopige bevindings van die ondersoek wat gelei het tot die beskadiging van die drie damme en daaropvolgende oorstroming, gegee. Tertius Simmers, die provinsiale minister van infrastruktuur, het ook die geleentheid bygewoon. Foto: Verskaf


Die voorlopige verslag van wat gelei het tot die rampspoedige gevolge van die drie damwalle wat op 8 Augustus op die plaas Dassenberg, buite Riverlands, meegegee het, is verlede week deur die nasionale minister van water en sanitasie, Pemmy Majodina, bekend gemaak.

Dít volg ná ’n twee weke lange ondersoek oor die beskadigde damme, geleë op die eiendom van die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Hoewel die grond waarop die damme geleë is, nie aan die departement van water en sanitasie behoort nie, voer die DWS ’n regulerende funksie oor alle damme binne die grense van die land uit, het die departement benadruk.

Majodina het die afgelope Donderdag (29 Augustus) vanuit Riverlands terugvoer oor die voorlopige bevindings van die ondersoek oor wat tot die beskadiging van die damme en daaropvolgende oorstromings gelei het, gegee.

Volgens Majodina het die ondersoek gewys dam drie is weens ’n mislukte pypleiding (interne erosie) beskadig, wat uiteindelik die stabiliteit van die damwal nadelig beïnvloed het. Dié skade van dam drie, met ’n groter waterinhoud, het tot die vernietiging van dam een en dam twee gelei.

Verder is bevind nie een van die damme het voldoende uitloop-strukture gehad nie en het dus nie aan die veiligheidstandaarde en standaard- ingenieursvereistes voldoen nie.

“Die beskadiging van die damme was voorkombaar as die damme destyds by die DWS geregistreer was om sodoende gereguleer te word en die verpligte damveiligheid-evaluasies deur ervare damingenieurs uitgevoer is,” het Majodina bevestig.

Die verslag het verder bevind dat die damme sonder die uitreiking van ’n lisensie/permit in terme van die waterwet, gebou is.

Die DWS het volgens ’n verklaring gesê dat stappe teen die eienaar/s (Dassenberg Plaas Edms. Bpk. verantwoordelik vir die konstruksie van die eerste drie damme, Agrico Machinery Edms. (Bpk.) verantwoordelik vir die konstruksie van die vierde dam en die departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling) van die damme geneem gaan word.

Intussen duur misdaadondersoeke voort, wat ook op die huidige en voormalige eienaars wat die damme sonder die nodige vereistes en regulasies gebou en bestuur het, sal fokus.

Die aksies sluit moontlik finansiële vergoeding vir die beskadiging van infrastruktuur in.

Volgens die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertius Simmers, wat ook die geleentheid bygewoon het, het die voorval ’n verwoestende uitwerking op die Riverlands-gemeenskap gehad. “Ek is tevrede met die departement van water en sanitasie se verbintenis om die betrokke belanghebbendes aanspreeklik te hou om te voldoen aan die behoeftes van die gemeenskap wat daardeur geraak is en om te verseker dat soortgelyke tragedies in die toekoms vermy word,” het hy na afloop van sy besoek gesê.

Simmers het ook versorgingspakkies aan inwoners wat behoeftig gelaat is, oorhandig.

Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur het hom daartoe verbind om grond beskikbaar te stel vir behuising en om tydelike skuiling aan blootgestelde inwoners te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article