Met toenemende Eskom-beurtkrag, veiligheidsprobleme, dreigende waterkrisisse, ontoeganklike paaie en wanpresterende onderwys in staatskole, kan niemand meer bekostig om net te kla oor die huidige stand van sake nie.
“Ons moet sélf alternatiewe begin vind,” sê Sakeliga KragDag met die tema “Daar is ’n alternatief!” by sy tweede Wes-Kaap-selfstandigheidsekspo, wat van 21 tot 23 Maart by Môreson-plaas buite Malmesbury plaasvind.
“Die Wes-Kaap-weergawe van Sakeliga KragDag is verlede jaar die eerste keer buite Malmesbury getoets en met meer as 5 000 besoekers wat die 100 uitstallers kom besoek het, het ons geweet ons besluit om KragDag se voetspoor te vergroot, was die regte besluit,” sê HP Steyn, bestuurshoof van KragDag.
Die ekspo het ontstaan nadat beurtkrag in 2007 die eerste keer in Suid-Afrika aangekondig is en dit duidelik geword het energie-oplossings in Suid-Afrika is noodsaaklik vir huishoudings en kleinondernemings. Deesdae is daar egter ’n groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings vir alle lewensterreine. Of die uitdagings nou watertekorte, watersuiwering, voedselproduksie, onderwys of sekuriteit is – planne word gemaak.
KragDag is al 14 keer op die Diamantvallei-landgoed, net buite Pretoria, aangebied en het van enkele tot sowat 600 uitstallers en van etlike honderde tot meer as 36 000 besoekers in Augustus 2023 gegroei. Sedert 2019 vorm ’n landbou-sub-ekspo ook deel van die uitstallings.
Meer oor die tema “Daar is ’n alternatief”
“Ons leef in ’n onsekere tyd, met ongekende ekonomiese verval, en ’n groot deel van die probleem is dat ons só gewoond geraak het aan gebrokenheid en verval dat dit moeilik is om ’n lewe in te dink waar dinge werk soos dit moet.
“Die antwoorde op die vraagstukke in ons land is gewis nie eenvoudig nie, maar dit begin sonder twyfel by selfstandigheid en individuele verantwoordelikheid. Wanneer ons sê ‘Daar is ’n alternatief’ gaan dit oor méér as om reaktief staatsbestand te raak. Dit laat ons opnuut herbesin oor hoe ons lewens, omstandighede en gemeenskappe na regte daar moet uitsien en om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.”
Daarom is Sakeliga KragDag soveel meer as ’n selfstandigheidsekspo. Dit is ’n instelling vir mense met ’n positiewe selfstandigheidsingesteldheid vir hulself en hul gemeenskappe – mense met ’n filosofie van vryheid en selfbeskikking wat roepingsbewus kreatiewe en selfstandige oplossings ontwikkel en implementeer, en mense inspireer om deel te neem.
Kom kyk na hierdie alternatiewe by Sakeliga KragDag Wes-Kaap 2024:. Jou eie kragvoorsiening as alternatief om aan beurtkrag blootgestel te wees.. Ontgin en opgaar van jou eie water as alternatief tot besmette water en wateronderbrekings.. Private en voorkomende gesondheidsorg as alternatief tot staatshospitale en -voorskriftelikheid.. Private en tuisleer as alternatief vir staatskole.. Eie- en gemeenskapsinstandhouding van infrastruktuur as alternatief tot slaggate en ander staatsuitgelewerdheid.. Persoonlike veiligheidstelsels en gemeenskapsveiligheid as alternatief tot polisie-onbevoegdheid en -misdadigheid.
Besoekers kan uitsien na meer as 100 selfstandigheidstema-uitstallers, ’n Kuns-en-kou-mark, ’n verskeidenheid kosstalletjies, ’n gesellige biertuin en wyntuin as ook ’n pretpark.
Verskeie kenners gesels ook saam in die Kopskuif-ateljee met sprekers soos Dawie Roodt, Piet le Roux, Ian Cameron, Bennie van Zyl en Theo de Jager.
Aangesien entrepreneurskap ’n belangrike element vir selfstandigheid is, bied KragDag ook ’n Junior Entrepreneurskompetisie tydens die ekspo aan.
Toegang vir besoekers beloop R120 per volwassene by die hekke, maar kaartjies kan vooraf teen 50%-afslag by www.kragdag.co.za gekoop word.
Kinders onder 18 kan die ekspo heeltemal gratis besoek.



