Die Christelike afhanklikheidsbediening (CAB) in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Sondag 26 Junie internasionale dwelmdag met ’n spesiale program gevier.
Die CAB, wat ten doel het om mense – en gesinne – met alkohol en dwelmverwante probleme in die gemeenskap te ondersteun asook bewusmakingsprojekte aanbied rakende die gevare van dwelm- en alkoholmisbruik, het vanjaar internasionale dwelmdag met die tema “Celebrating a healthy life style” gevier. Hierdie projek het die naweek van 17 tot 19 Junie al begin. Verskeie jeuggroepe is besoek, waartydens kleiner vergaderings oor die gevare van rook, alkohol en dwelms uitgelig is.
Suster Lewis van die Darling-kliniek het Sondag 26 Junie tydens die erediens in die VGK-gemeente ’n praatjie gehou en onder meer tienerswangerskappe bespreek. Jongmense is aangemoedig om vroeg in hul lewe die regte keuses te maak en sodoende van vroeg af ’n gesonde lewenstyl te lei.
George Lewis, die plaaslike CAB-voorsitter, het die Woordbediening waargeneem en uit Rom. 14:13 tot 15:6 en 1 Tim. 6:10 gelees.
Hy het veral klem gelê op die feit dat dwelmsmokkelaars “gewetenlose, geldgierige mense is wat met hul selfsugtigheid mense – soms jonger kinders – gebruik en huisgesinne en die gemeenskap vernietig, verwoes en skaamteloos afbreek”.
“Sodoende word kosbare lewens verpletter.”
Sondagmiddag is ’n opelugbyeenkoms gehou waar die plaaslike raadslid AK Warnick die gemeenskap onder andere oor die gevare rakende die gebruik van die “okkapyp” ingelig het. “Om hierdie dwelmpyp te rook, is nie so onskuldig as wat voorgegee word nie. Die pyp, of hubbly bubbly, is in wese ’n dwelmpyp.”
Die Swartland-kadetgroep het die gemeenskap verras met ’n vertoning van vermaaklike passies en instrumentele sang.
Die VGK-brigade het ook by die geleentheid opgetree en Jeugmaand op hierdie wyse afgesluit.
Past. Gert Korah van die Jeria-sending en -aanbiddingsgroep het die verrigtinge afgesluit ná ’n boeiende en inspirerende getuienis van die evangelis Jan Spiers, een van die leiers van die geestelike gemeenskapsforum. Korah het klem gelê op die feit dat die lewe gaan oor keuses wat jy maak.
Hierna is die gemeenskap, veral die kinders, met allerlei lekkernye en sop onder leiding van die GPF bederf.



