Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het in ’n verklaring bevestig hy is tevrede met die onlangse registrasie van potensiële kiesers reg deur die Wes-Kaap.
Landsburgers wat kwalifiseer om in die 2024- nasionale verkiesing te kan stem, het op 18 en 19 November die geleentheid gekry om by sowat 1 500 tydelike registrasiepunte reg oor die provinsie te gaan registreer.
Altesaam 3 855 inwoners van die Swartlandstreek het op 18 November geregistreer om hul kruisie in die verkiesing te gaan trek.
Die Hoërskool Swartland se registrasiepunt het die meeste registrasies – altesaam 389 – opgelewer.
“Indien inwoners die registrasiegeleentheid misgeloop het, kan hulle steeds aanlyn by registertovote.elections.org.za registreer,” het die OVK aangemoedig.




