Die Robertson CBD-buurtwag het die afgelope week nie net patrollie gedoen nie, maar was die spreekwoordelike ooievaar ook.
Michael Scheepers het ???dag tydens sy patrollie om 02:50 ’n oproep ontvang van ’n vrou in nood – haar familielid moes dringend by die hospitaal kom en hulle was nie op daardie tydstip in die dorp om haar te neem nie. Michael het laat weet hy is vier minute van haar af en sal dadelik gaan help.
Hy het haar uiteindelik nie net hospitaal toe geneem nie, maar seker gemaak sy word opgeneem en die familie van die gebeure op hoogte gehou.
“Dit is op sulke tye wat ons baie dankbaar is vir die mense wat hul tyd opoffer om die gemeenskap veiliger te maak, en absoluut uit hul pad gaan om te help waar nood is. Indien u ook by die buurtwag betrokke wil raak en ’n positiewe bydrae aan die gemeenskap wil lewer, kontak Richard Joseph by 084 788 9412 of Michael Scheepers by 082 464 6263,” sê die buurtwag.
“Raak betrokke, sluit aan by die RCNW WhatsApp-groep, die Facebook-groep (Robertson CBD Neigborhood Watch (RCNW), en word vandag nog ’n lid. Hierdie groepe gaan jou in staat stel om dadelik verdagte optrede aan te meld en om ook te help om op hoogte te bly van wat in die gemeenskap gebeur. Dit is in almal se beste belang dat mense te all tye ingelig, betrokke, en voorbereid moet wees.”




