Van links is David Olivier (veiligheidshoof vir die Suidstreek), Riaan Muller (takvoorsitter), Johan Crous (distrikskoördineerder vir die Weskus), Henk Dryer (buurtwagleier) en Deon de Jager (hoof van gemeenskapstrukture vir die Suidstreek).


Die AfriForum-buurtwag in Malmesbury, wat slegs ’n jaar gelede op die been gebring is, is tydens AfriForum se kongres by die ATKV- Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo as die beste buurtwag in die Suidstreek aangewys.

Die buurtwag is met die Suidstreek-buurtwag van die Jaar-toekenning vir al sy harde werk in die gemeenskap vereer.

Die Malmesbury-buurtwag neem sy rol as beskermer ernstig op deur sedert sy stigting in Oktober verlede jaar weekliks patrollies in die gebied te doen en hegte bande met die plaaslike polisie te smee.

Die buurtwag het tydens vanjaar se verkiesing gehelp om oor stemlokale te waak en selfs tot in die vroeë oggendure patrollies gery om te verseker dat elke inwoner sonder voorval hul stem kon laat uitbring.

Al hoe meer lede van dié buurtwag ontvang AfriForum se proto-spanopleiding en leer vaardighede aan wat vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van onskatbare waarde is.

Hierdie buurtwaglede het die SAPD al onder meer tydens optogte en ná rooftogte in die dorp ondersteun. Die Malmesbury-buurtwag het ook al verskeie verdagtes vasgetrek.

“Hierdie buurtwag se toewyding tot die gemeenskap is so omvangryk dat niks in sy pad sal staan om te verseker dat Malmesbury vry, veilig en voorspoedig is nie,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus. “Ons is vol vertroue dat die Malmesbury-buurtwag sal voortgaan om die gemeenskap se belange, welstand en veiligheid eerste te stel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article