’n Postume digbundel deur die bekende en geliefde ortopediese chirurg en kunstenaar van Worcester, wyle dr. Piérre Botes, is pas bekend gestel.
Botes het 22 jaar in Worcester gepraktiseer en was bekend vir sy besondere passie en liefde vir skryfwerk – veral poësie.
Dit is sy tweede digbundel.
Die eerste, Vertrek, is sowat drie maande voor sy dood (hy is in Januarie 2021 aan Covid-19 oorlede) gepubliseer. Dit handel oor die pad van rou en verlies ná die selfdood van sy middelste seun. Vertrek is in samewerking met die Ithemba-stigting bekend gestel.
Sy tweede bundel, Onvoltooid, is deur Naledi uitgegee en in Swellendam by Bokmakiri Boeke bekendgestel. Van Botes se kunswerke is by die bekendstelling uitgestal.
Botes was baie bekend in Swellendam, wat hy 21 jaar lank elke maand as deel van sy ortopediesechirurgie-praktyk besoek het.
Die gasspreker by die bekendstelling was prof. Lizette Rabe, hoof van die joernalistiekdepartement by die Universiteit Stellenbosch. Sy was jare lank ’n gespreksgenoot en vriend van Botes en het gesels oor sy werk as kunstenaar en denker, en die band tussen hulle, wat “soos broers” was.
Sy het ook oor verganklikheid teenoor onverganklikheid gepraat – dat mense almal verganklik is, maar dat Botes se nalatenskap onverganklik is. Die laaste gedig in die bundel is juis vir haar geskryf.
Die bundel bevat 60 gedigte en twee kortverhale, en raak onderwerpe aan wat die skrywer se verbintenis met die natuur, liefde vir kuns, moeilike lewensvrae en bewustheid van verganklikheid en oudword blootlê.
In die binneomslag staan die volgende woorde:
“In hierdie tweede bundel, wat Piérre nie self kon voltooi nie, reis hy vir oulaas met woorde deur bekende en minder bekende landskappe. Hy het nooit teruggedeins van moeilike lewensvrae nie en laat vir ons verse agter wat die omvang van sy vol lewe verteenwoordig, soos die deurwinterde bloekoms wat oral sigbaar is in die vallei aan die randkant van Klein Fontein, sy laaste woonplek.”
Dr. Nicoline Woest van Windhoek, ’n hegte gesinsvriend en letterkundige en voorheen van Worcester, het bystand verleen om die manuskrip met haar insette en raad te voltooi.
Mense wat graag ’n bundel wil aanskaf, kan ’n Whatsapp-boodskap na Arina by 082 377 5183 stuur.
. Een gelukkige leser het die kans om ’n kopié van Onvoltooid te wen. SMS die woord “Onvoltooid” met jou naam en van na 34426 voor Maandag 4 Julie om 12:00 om vir die prys in aanmerking te kom.





