Die eerste olyfboom is by die Goedgedacht-POP-sentrum deur lede van die Goedgedacht-span, inwoners wat steeds daar gehuisves word en beamptes van die Swartland-munisipaliteit, geplant. Foto: Verskaf


’n Spesiale geleentheid het die afgelope Donderdag in die vloedgeteisterde gebied van Riverlands afgespeel toe olyfbome deur verskeie inwoners en rolspelers geplant is.

Die geleentheid, wat die Riverlands-Olyfboom-plant-seremonie genoem is, het volgens Heinelize Knoesen, adjunk-ontwikkelings­bestuurder by die Goedgedacht Trust, die herbou en herstel van Riverlands en die gemeenskap simboliseer. ’n Belofte om die verandering te omhels vir die volkome genesing van ’n gemeenskap, om mekaar te ondersteun, uit die gebeurtenis te leer en aan te pas en elke stap vorentoe te vier, is onder meer met elke boom wat geplant is, gemaak.

Drie olyfbome is by drie verskillende liggings geplant, naamlik die Goedgedacht Trust Riverlands POP-sentrum, die Riverlands Primêre Skool en die Love Church.

Wynona Mckrige, ’n inwoner van Riverlands, het gedurende die geleentheid ’n kragtige getuienis oor hoe die oorstroming haar lewe geraak het, gelewer. Foto: Lavern Maarman

“Olyfbome is betekenisvol tot die Goedgedacht Trust, ’n simbool van hoop en vrede,” verduidelik Nadia Samuels-Zwaan, die trust se bemarkingsbestuurder. “Gedurende die geleentheid is baie na die Bybel verwys en hoe God by die mense van Riverlands gestaan het, maar die klem het geval op ’n nuwe begin waar ons mekaar moet ophef.”

Die bestuurskomitee het alle rolspelers en belanghebbendes, insluitend die Goedgedacht Trust, die Swartland-munisipaliteit, die Weskus-distriksmunisipaliteit, pastoor Terry, die Love Church en alle skenkers en vrywilligers vir hul hulp gedurende die moeilike tyd bedank.

Nog bome word geplant. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article