Ná ‘n intense en opwindende Craven- en Akademieweek 2025 het die afrigtingspan van die o.13-Boland-akademiespan, Ashwin Parnell en die skoolhoof Marinus Breedt, hul ervaring en gevoel oor die toernooi met ‘n kombinasie van dankbaarheid, trots en refleksie gedeel.
Hierdie afrigtingsduo het sedert 2017 ‘n merkwaardige 28 van 32 wedstryde vir Bolandse laerskole gewen. Hul benadering is nie net om spelers op die veld te ontwikkel nie, maar ook om jong leiers met karakter te vorm. “Ons bou mense, ontwikkel selfvertroue en laat die liefde vir rugby blom.”
Die grootste uitdaging was om onder druk kalm te bly teen ‘n sterk Westelike Provinsie-span wat Boland in 2024 in die eindstryd geklop het. Die Boland-span moes hul eie spelplan vertrou en tempo handhaaf teen gestruktureerde, vinnige spel. Die Bolanders het Vrydag 4 Julie die WP dié keer met 23-14 in hul finale wedstryd in Oos-Londen geklop.

Ná die vorige jaar se teleurstelling was drukhantering sentraal tot die voorberei-ding. Oefenkampe het nie net fisieke fiks-heid gebring nie, maar ook ‘n geestelike anker.
“Ons het hulle geleer om elke oomblik as ‘n geleentheid te sien. Om die spel te geniet, was een van die kernfokuspunte in die span. Die toernooi het spelers trans- formeer. Stil seuns het leiers geword, vaardighede het verbeter en karakter gebou.”
Vir Parnell en Breedt is dit ‘n voorreg om saam met die kinders te leer – ‘n ryke vormingsproses vir beide partye. Parnell het benadruk hoe verhouding, eerlikheid en vertroue die grondslag vorm vir sukses. Die toernooi het gewys dat harde werk en vasgelegde waardes werklik dividende lewer – sonder kortpaaie.
Cravenweek 2025 was volgens die afrigters van uitsonderlike standaard. Die spanne was fiks, goed voorberei en het met tegniese vaardigheid gespeel, maar dit was die gees van respek, entoesiasme en passie wat werklik uitgestaan het.
Hierdie toernooi was nie net ‘n sportgebeurtenis nie; dit was ‘n vormingsreis wat die jong spelers se identiteit versterk en die afrigters se waardes bevestig het.
Volgens die afrigtingspan sal karakter, kameraadskap en ‘n liefde vir die spel aanhou groei.



You must be logged in to post a comment.