“Ons sal uitvind wie jy is en ons sal alle oortreders vervolg.”
Dít is Rhandall Swarts, die speaker van die Bergrivier-munisipaliteit (BM), se boodskap aan almal wat munisipale dienste ontwrig.
“Vandalisme, diefstal of die vernietiging van munisipale eiendom sal nie geduld word nie,” waarsku hy.
Die kantoor van die speaker het onlangs ’n dringende vergadering met plaaslike veiligheidsrolspelers gehou om streng maatreëls te bespreek wat ingestel en toegepas sal word om alle voorvalle van vandalisme hok te slaan.
Die munisipaliteit het gedurende die 2020-’21-boekjaar net in Velddrif ongeveer R1,5 miljoen bestee om beskadigde munisipale infrastruktuur te herstel en te vervang.
“Die toenemende vandalisme is ’n groot krisis. Dit het ’n jaarlikse uitgawe geword, wat swaar op die begroting weeg. Dit veroorsaak dat geld nie elders, waar dit regtig saakmaak, bestee kan word nie,” het Swarts verduidelik.
Die munisipaliteit, in vennootskap met veiligheidsrolspelers, werk aan ’n plan om vandalisme te bekamp en diefstal van munisipale eiendom oor die hele die Bergrivier- munisipale gebied, maar spesifiek by brandpuntgebiede soos Velddrif, te voorkom.
Swarts doen ’n beroep op alle inwoners om voorvalle van vandalisme of diefstal van munisipale eiendom onmiddellik by die munisipaliteit aan te meld.
“Neem eienaarskap van munisipale fasiliteite; dit is joune. Ons moet saamwerk om vandalisme in ons gemeenskappe te bekamp. Dienste word onderbreek. Ons moet vinnig optree,” het Swarts gesê.
’n Beloning word aangebied as mense vandalisme of diefstal by die munisipaliteit aanmeld wanneer die inligting of bewyse wat verskaf word, tot ’n skuldigbevinding aan die misdaad kan lei.
Om voorvalle van vandalisme of kabeldiefstal aan te meld, skakel die volgende nommers:. Piketberg: 083 226 1067/ 083 661 9253. Porterville: 083 922 5213. Velddrif (insluitend Dwarskersbos en Laaiplek): 083 272 4128. Redelinghuys: 083 226 1067 / 083 661 9253. Aurora: 083 272 4128. Eendekuil: 083 922 5213. Goedverwacht & Wittewater: 083 226 1067 & 083 661 9253



